‘n Sesjarige meisie is in ‘n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem nadat sy vroeër vanoggend (Donderdag, 9 April) in Valhalla-park in die kop geskiet is.
Strydende bendes
Volgens polisie-woordvoerder, sers. Wesley Twigg, het die meisie omstreeks 09:20 in Eleanor-straat in die spervuur van strydende bendes beland toe sy raakgeskiet is.
“Die Bishop Lavis-polisie het op ‘n oproep gereageer en toe hulle op die toneel kom het hulle op die meisie met ‘n kopwond afgekom. Die slagoffer is na ‘n mediese fasiliteit vervoer en ontvang behandeling. Die verdagtes het van die toneel gevlug en is nog nie in hegtenis geneem nie,” sê Twigg.
Leidrade opgevolg
Volgens hom word alle leidrade opgevolg en doen hy ‘n beroep op mense met inligting oor die voorval om die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 te skakel.
Hierdie is ‘n ontwikkelende storie, volg TygerBurger vir verdere ontwikkelinge.
READ ALSO: One arrested for attack op Leap officers in Valhalla Park





