Die gemeenskap van Elsiesrivier is weer tot in sy fondamente geskud met die dood van ‘n 13-jarige seun in wat vermoedelik ‘n bendeverwante voorval is.
Twee gewond
Die oorledene en die twee ander slagoffers, onderskeidelik 18 en 31, is geskiet toe hulle die afgelope Sondag (24 Mei) op pad huis toe was, nadat hulle kos in Goodwood gaan koop het.
‘n Polisiewoordvoerder, sers. Wesley Twigg, sê ‘n saak van moord en twee van poging tot moord word ondersoek. “Die omstandighede van die skietvoorval wat omstreeks 21:15 in Stratford Place, Agtiende Straat in Leonsdale plaasgevind het, word ondersoek. ‘n Dertienjarige seun is noodlotting gewond, terwyl twee ander beseer is,” sê Twigg.
Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie.
Betroubare bron
Volgens ‘n bron met nadere inligting oor die voorval was die seun net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek. “Hy is nie by bendebedrywighede betrokke nie, maar daar bestaan ‘n vermoede dat die oom saam met wie hy was by bendebedrywighede betrokke is. Die oom was glo die bestuurder van die motor. Hulle is in ‘n hinderlaag gelei, vasgekeer en toe is daar op hulle losgebrand. Ek is nie seker wie van die beseerdes nog in die hospitaal is nie, want die oom is deur die mond geskiet,” sê die bron.
Die polisie het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om met inligting oor die voorval na vore te kom.
LEES OOK: Polisie vra dat teistering op meisie wat soos Joslin Smith lyk stop




