Afrikaanse idiome – hoe lank is dit nog met ons? vra oud-dosent

Wanneer idiome verdwyn, verloor ons nie slegs uitdrukkings nie, ons verloor ook 'n groot gedeelte van die rykdom en siel van Afrikaans.
Wanneer idiome verdwyn, verloor ons nie slegs uitdrukkings nie, ons verloor ook ‘n groot gedeelte van die rykdom en siel van Afrikaans.

Afrikaanse idiome – hoe lank is dit nog met ons? vra oud-dosent

Wanneer idiome verdwyn, verloor ons nie slegs uitdrukkings nie, ons verloor ook 'n groot gedeelte van die rykdom en siel van Afrikaans.
Wanneer idiome verdwyn, verloor ons nie slegs uitdrukkings nie, ons verloor ook ‘n groot gedeelte van die rykdom en siel van Afrikaans.

As taalliefhebber en afgetrede dosent het Almarié Geldenhuys van Kaapstad onlangs met groot skok tot die ontdekking gekom dat idiome nie eintlik meer deel van ons matrikulante se sillabus uitmaak nie.

“En dit in skrille kontras met die ouer garde, wat op hoërskool bladsye en bladsye Afrikaanse en Engelse idiome uit ons koppe moes geleer het,” sê sy.

“Ek toets deesdae doelbewus jongelinge se kennis van idiome. My mond val telkemale in verwondering en skok oop as ek vind dat die meerderheid nie eens eenvoudige idiome soos ‘van die os op die jas’ of ‘die koeël is deur die kerk’ ken nie. Dis vir my ‘n steen des aanstoots en steek my dwars in die krop.”

Maar daar is natuurlik uitsonderings op die reël, dikwels te danke aan ‘n pa of ‘n ma wat idiomatiese taalgebruik deel van hul woordeskat maak en dit daagliks met hul spruite deel.

“Ek kan nie help om te wonder wie by die onderwysdepartement dit nodig geag en besluit het dat dit nie meer deel van die sillabus moet wees nie. Watter tragiese besluit was dit nie.”

Sy stig toe ‘n Facebook-blad

Met die vrees dat idiome mettertyd in die niet gaan verdwyn, het Geldenhuys ‘n blad op Facebook gestig – Afrikaanse Idiome – waar lesers deur middel van ‘n pretspeletjie hul kennis aangaande idiome kan toets.

“Natuurlik het die gehoor ywerig deelgeneem en die meerderheid van die idiome geken. Wat ‘n vreugde was dit nie vir my nie!”

Idiome, sê sy, is die skatkis van ‘n taal, en ‘n goeie barometer om te toets hoe goed iemand ‘n taal ken.

“Dis soos speserye wat kos geur en ekstra lekker laat proe. Dis die karakter en wysheid van ‘n taal wat deur geslagte aan ons oorgedra is. Hou ook in gedagte dat baie idiome en uitdrukkings hul oorsprong in die Bybel het. Dink maar net aan ‘ ‘n oog vir ‘n oog’; ‘die skrif is aan die muur’ en ‘sout van die aarde’ om maar net drie op te noem. Agter elke idioom lê daar geskiedenis, volkswysheid en menslike ervaring. Dit verbind ons nie net met ons pragtige taal nie, maar ook met ons voorgeslagte.”

‘n Taal sonder idiome is soos ‘n tuin sonder blomme: die kleur, geur en karakter het verlore gegaan.

“Wanneer idiome verdwyn, verloor ons nie slegs uitdrukkings nie, ons verloor ook ‘n groot gedeelte van die rykdom en siel van Afrikaans. Dit is taalskatte wat weer aan jong mense bekend gestel moet word. Kinders moet dit in hul kreatiewe skryfwerk asook in hul dag tot dag kommunikasie met mekaar gebruik. ‘n Taal sonder idiome is soos ‘n tuin sonder blomme: die kleur, geur en karakter het verlore gegaan. Idiome mag nie uitsterf nie. Hulle moet voortleef van geslag tot geslag.”

LEES OOK: ‘Ek hou nie van Kaaps’

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article