Wat eens ‘n rustige aftreebestaan vir Christine Visser was, het nou ‘n daaglikse nagmerrie geword. Haar agterhekkie, geleë langs ‘n sypaadjie naby Voortrekkerweg 333, is nou omskep in ‘n toilet deur ‘n groep haweloses wat hulle daar gevestig het.
“Ek weet nie hoeveel in die groep is nie, maar hulle het begin intrek. En dan is my sypaadjie se hoek die toilet. Dit ruik soos ‘n rioolplek hier op my sypaadjie,” vertel Visser moedeloos.
Die reuk van urine en ontlasting hang swaar in die lug en lok swerms vlieë, wat die gesondheid van die bejaarde ernstig bedreig. Visser, wat met swak gesondheid sukkel, sê sy kan eenvoudig nie meer aangaan nie. “Dit maak ‘n mens siek om elke dag die stank in te asem,” sê sy. “Een oggend toe ek ry, staan die een en kyk my in die oë en urineer daar. Dis ‘n ongelooflike gesondheidsrisiko vir my.”
Sy sê verder die situasie is buite beheer, veral snags. “Snags jol, vloek en raas hulle so dat geen mens kan rus nie. Die toilet is steeds die hoek by my hek.
My sypaadjie stink soos ‘n rioolplaas.”
Lees ook: Goodwood residents furious over homeless huts
Volgens Visser is die probleem vererger deur ‘n onwettige houtstruktuur – ‘n sogenaamde hok – wat teen haar heining opgerig is. “Dit versper my lig, en maak my onveilig wanneer ek soggens in die donker hospitaal toe moet ry,” sê sy. “Ek is gedaan gesukkel.”
Reaksie van die owerhede
Wayne Dyason, woordvoerder vir die Stad Kaapstad se wetstoepassingsdepartement, sê hulle is bewus van die situasie. “Beamptes sal die adres weer besoek tydens weeklikse patrollies,” het hy gesê.
Volgens Dyason is oortredingskennisgewings reeds uitgereik en is mense van die terrein verwyder. “Die uitdaging met mense wat op straat woon, is dat hulle dikwels nie die maatskaplike bystand, insluitend tydelike skuiling, wat deur die Stad aangebied word, wil aanvaar nie.”
Ten spyte van hierdie pogings, het die groep weer teruggekeer. Hulle gebruik nie net die sypaadjie as toilet nie, maar mors ook bourommel in die straat, volgens Visser. “Hulle slaan hul vondse plat en dan gooi hulle die bakstene in die straat,” sê sy.
Sy meen die probleem raak nie net haar eiendom nie, maar dui op ‘n groter buurtkrisis. “Die intrekkers was voor Tonnesson, nou is hulle om die hoek tot voor Voortrekkerweg 333. Hulle het selfs getrek tot amper langs my én oorkant die straat. Dis nie volhoubaar nie.”
Visser het verskeie klagtes aan munisipale owerhede gerig en sê sy is nou moedeloos. “Ek vra net dat iemand my help.
“Ek is oud, ek is moeg, en ek verdien beter as om my laaste jare in so ‘n toestand deur te bring,” sluit sy af.
. Inwoners word daaraan herinner om onwettige aktiwiteite aan te meld deur die Stad Kaapstaad se openbare noodkommunikasiesentrum by 021 480 7700 vanaf ‘n selfoon en 107 vanaf ‘n landlyn te skakel.
Lees ook: Stegie in Goodwood is ’n gemors







