FunlandSA het dié foto op Facebook gedeel wat geneem is tydens die oprig van die pret-apparate. In die agtergrond is die Groot Wiel.

Credit: SYSTEM

Die vrou wat saam met haar stiefseun (6) om en by 5 m ver van ’n prettoestel in Bellville geval het, het glo rugfrakture.

Die seun is verlede week ontslaan en sy toestand is onbekend.

Die voorval het verlede Maandag omstreeks 17:30 by die pretpark van Funland Amusements SA gebeur, wat op die terrein van die Laerskool Bellpark aangebied is.

Die vrou en seun het op die Groot Wiel gery toe die voorval plaasgevind het.

Luidens ’n berig op Netwerk24 het dit vir ander gelyk of die seun se voet aan die raamwerk vasgehaak het, waarna die sitplek waarin hulle was, gekantel het.

Aangesien dit ’n openbare vakansiedag was, was die ritte, soos oor naweke, vir die publiek oop.

Die skool het die voorval bevestig en in ’n brief aan ouers gesê niemand van die skool is beseer nie en dat Funland verantwoordelikheid vir besoekers geneem het.

Funland bied gereeld sulke pretdae oor die land heen aan en het begin Maart een in Wynberg aangebied en einde Februarie ook by die Laerskool Mikro in Kuilsrivier.

Die voorval is by die polisie aangemeld, sowel as by die Stad Kaapstad, wat ’n permit uitgereik het.

“Die skool kan nie bespiegel oor wat gebeur het nie, maar die voorlopige bevindings is dat dit nie weens onveilige of stukkende masjinerie gebeur het nie,” lui die verklaring deur die skoolhoof, Pierro Louw.

“Al die ritte is deur ’n ingenieur veilig verklaar voordat dit Vrydag in gebruik geneem is.”

Henriëtte Pretorius, bemarkingsbestuurder by FunlandSA, het teen druktyd gesê hulle wag nog vir volledige verslae, waarna hulle meer inligting bekend sou maak.

Die spesifieke pretrit is ná die voorval gesluit en die fees het sonder verdere voorval tot die verwagte sluitingsdatum Sondag voortgeduur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article