Die leiers van opposisiepartye in die parlement sê in ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa hulle is bekommerd oor die “algemene wetteloosheid” in die land.


Weens ’n tekort aan verkeersbeamptes in Kaapstad is daar ’n ernstige gebrek aan polisiëring, wat groeiende wetteloosheid op die paaie binne die stadswyke van Subraad 2 tot gevolg het.

Die kwessie is onlangs op ’n aanlyn sitting van dié subraad bespreek.

Marian Nieuwoudt, subraadvoorsitter en raadslid in Brackenfell en dele van Kuilsrivier, meen die subraad moet die realiteit erken.

“Daar is nog steeds nie genoeg verkeersbeamptes beskikbaar om reg en orde op die paaie in Brackenfell en Kraaifontein te verseker nie,” sê sy.

Rhynhardt Bresler, raadslid in Kraaifontein en dele van Brackenfell, asook ’n lid van die Stad Kaapstad se veiligheidsportefeuljekomitee, het op sy beurt ’n beroep op stadsowerhede gedoen om hiermee te help.

“Wetstoepassing op ons paaie moet verbeter en ons het meer verkeersbeamptes nodig. As daar gekyk word na die aantal boetes wat maandeliks vir bewegingsoortredings uitgeskryf word, ewenaar dit nie die realiteit nie,” sê Bresler.

“Hoewel die terugvoering van die verkeersdepartement goed is, maak dit doodeenvoudig nie alles reg wat verkeerd is op ons paaie nie,” sê hy.

Volgens hom is paaie soos Darwinstraat in Kraaifontein net een van baie voorbeelde hiervan.

“As jy net een besige straathoek monitor, sal jy oplet dat meer verkeersreëls en spoedbeperkings in een dag oortree word as wat boetes in een maand uitgereik word.”

Volgens die driemaandelikse verkeersverslag wat op die sitting ter tafel gelê is, is daar tussen Januarie en Maart in al ses wyke van die subraad (wat Brackenfell, Kraaifontein en dele van Kuilsrivier insluit) altesaam 1 224 boetes uitgereik, waarvan 877 vir minibustaxi’s was en 347 vir ander voertuie.

Altesaam 1 676 spoedkaartjies is uitgereik, waarvan 142 vir minibustaxi’s en 1 534 vir ander voertuie.

Ook dronkbestuur wat mense se lewens in gevaar stel, is ’n groot probleem in die subraad, sê Bresler.

“Oor naweke is kuierplekke stampvol tot laat en dronk motoriste is oral op die paaie sonder veel polisiëring – dit as gevolg van ’n tekort aan verkeerspersoneel wat oortyd kan werk.

“Ons benodig meer verkeersbeamptes om uitsluitlik in Subraad 2 ontplooi te word,” sê hy.

“Minibustaxi’s is buite beheer en dit beïnvloed ander motoriste om ook wetteloos op paaie te wees. Meer sigbare polisiëring is dringend nodig en iewers moet ons nog verkeersbeamptes kry.”

Bresler het ook ’n beroep op motoriste gedoen om meer verantwoordelik te wees.

“Ek vra ouers om ’n voorbeeld te wees vir hul kinders wat ook eendag agter die stuurwiel gaan inskuif.

“Stop by stoptekens en rooi ligte en handhaaf spoedgrense en ander verkeersreëls. Die gemeenskap het ook ’n verantwoordelikheid om ons paaie veiliger vir almal te hou.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article