Inwoners van Murraystraat in Goodwood sê hulle leef in vrees omdat ’n verlate huis ongure karakters lok.
Die huis te Murraystraat 159a is een van die Stad Kaapstad se huise vir pensioenarisse. Die betrokke huis staan nou leeg vir omtrent ’n week.
Dieselfde aand nadat die vorige inwoners uitgetrek het, het ongemagtigdes, haweloses en tikgebruikers die hout waarmee die stadsraad die vensters en deure toegekap het, stukkend geskop en die vensters gebreek om toegang tot die huis te kry.
Die vrou wie se huis aan die betrokke huis grens, het gekla van geraas elke aand toe hierdie mense die geiser afgehaal en verwyder het.
“Ons het die stadsraad ingelig, maar het ’n antwoord gekry dat ons die polisie of wetstoepassers moet skakel,” sê ’n vreesbevange inwoner, wat anoniem wil bly.
Daar is reeds twee huise waar dwelmbedrywighede voorkom en dit ’n toeloop van ongure karakters veroorsaak. Daar word nou slote gegrawe, blykbaar om by die koperpype uit te kom.
Die kantoor in Leonsdale is al verskeie kere ingelig oor hierdie bedrywighede, maar daar was nog geen optrede nie. Die pensioenarisse leef in vrees, want hulle voel blootgestel. Verskeie inwoners het vir Cecile Janse van Rensburg gebel. Die wyksraadslid sou al besoek kom aflê het, maar niemand het opgedaag nie.
Janse van Rensburg is ook lid van die Murray-/Riebeekstraat Neighbours Whats-App-groep, waarop verskeie kere al gekla is oor die bedrywighede by hierdie huise, spesifiek oor die dwelms. Daar was nog geen optrede van haar kant af nie.
“Hierdie huisies word regtigwaar so afgeskeep en gaan so agteruit.” Daar is verlede jaar palisadeheinings opgerig en hulle is belowe dat daar hekke sal kom wat deur hulle beheer kan word. Tot nou is daar nog geen hek nie en almal het toegang van die straat af.
Nog ’n inwoner meen die stadsraad het geweet die mense het verhuis. “Hoekom het die raad nie dadelik ander mense daar laat intrek nie? Moet die plek eers gevandaliseer word? Ek was baie bang dat hulle nie oor hierdie plek bekommerd sou wees nie.”
Vrydag het hulle wel die plek toegemaak en wetstoepassers in kennis gestel en dit was sedertdien stil.
“Die stadsraad moet dadelik mense in die huis sit om meer probleme te voorkom.”
Die Stad Kaapstad het teen druktyd nog nie terugvoering gegee nie.





