Tydens Leef Kidz kleuterskool se beroepsweek het ‘n klein gebaar ‘n groot indruk gemaak toe die kleuters die plaaslike vullisverwyderaars met kospakkies verras het — ‘n oomblik wat niemand gou sal vergeet nie.
Luani Bekker, skoolhoof van Leef Kidz, verduidelik dat die skool elke jaar ‘n beroepsweek hou en dat hulle hierdie jaar ‘n beroep wou uitlig wat dikwels min erkenning ontvang — veral gedurende die koue wintermaande. Die skool het besluit om die vullisverwyderaars te bederf met nie-bederfbare produkte as teken van waardering vir hulle harde werk.Kleuters pak die sakke
Die kleuters is eers bewus gemaak van die vullisverwyderaars se belangrike rol in die gemeenskap. Aangesien die kinders hulle weekliks buite die skool hoor en sien, was dit ‘n natuurlike keuse. Die skool het ‘n beroep op ouers gedoen om skenkings saam skool toe te stuur, waarna die kleuters self die sakke help pak het. Die opwinding onder die kinders was tasbaar toe die tyd gekom het om die pakkies te oorhandig.
LEES OOK: Kinderbeskermingsweek in Kuilsrivier: Kleintyd se kleuters leer van veiligheid
Woorde was min toe die kospakkies oorhandig is — niemand het so iets verwag nie. Die bestuurder van die vullisspan het genoem dat hy nog nooit in sy beroepsloopbaan so ‘n gebaar ontvang het nie. Die vullisverwyderaars het hulle dankbaarheid teenoor die kinders getoon deur ‘n “high five” te gee en die personeel te bedank vir die hartlike skenking.

‘n Boodskap aan die gemeenskap
Leef Kidz wil met hierdie inisiatief ‘n duidelike boodskap oordra: elke persoon se werk is waardevol. “Klein dade van dankbaarheid kan ‘n groot verskil maak en ander inspireer om ook hul waardering te toon,” sê Bekker. Die skool glo dat vriendelikheid en respek ‘n groter beweging van waardering vir noodsaaklike werkers in gemeenskappe kan aanmoedig.
Dit was nie die laaste keer nie. Leef Kidz beoog om in die toekoms nog soortgelyke projekte aan te pak om gemeenskapswerkers wat dikwels ongesiens werk, te erken en te vier. “Deur hierdie projekte wil ons nie net dankbaarheid wys nie, maar ook ons kinders leer om ander met respek, vriendelikheid en waardering te behandel,” sê Bekker.





You must be logged in to post a comment.