Die Golden Arrow-busterminus in Kaapse middestad.

Kaylynn Palm Credit: Roshe Taka

’n Plaaslike inwoner het verlede week ’n petisie begin om die Golden Arrow-busdiens te oorreed om ’n roete van Kuilsrivier via die N1-snelweg na die Kaapstad-middestad te begin.

Jacques van Zyl sê die petrolprys is een van die groot redes, maar die versoek is spesifiek om ’n bus te hê wat van die Zevenwacht-winkelsentrum af na die R300 en dan N1 langs direk stad toe gaan.

“Dit help om vroeër in die stad te kom, veral vir staatsamptenare wat baie vroeg moet begin.

“Die voordele wat dit sou bied, is dus minder voertuie op die N1 en natuurlik minder lugbesoedeling vanweë minder voertuie.”

Van Zyl sê hy het navraag by Golden Arrow gedoen. “Met elke versoek vir ’n bus soek hulle ’n petisie met handtekeninge.”

Hy is nie seker hoeveel handtekeninge genoeg sal wees nie. “Die kans is goed Golden Arrow gaan net eers met een bus begin en die groei monitor.”

Teen Maandag het meer as 200 mense reeds die aanlyn petisie gesteun.

Van die redes wat ondertekenaars gegee het sluit in ’n behoefte aan alternatiewe vervoer weens die gebrekkige treindiens sedert die pandemie; nie genoegsame openbare vervoerdienste van sentrale Kuilsrivier na die middestad nie; stygende petrolkoste en ’n behoefte aan goedkoper vervoer, asook om verkeer op die pad te verminder.

’n Rit van gewoonlik drie minute tot by die R300 kan soms weens druk verkeer 20 minute neem, volgens een kommentaar.

TygerBurger het navraag gedoen, maar Golden Arrow kon teen druktyd nie bevestig of die roete bygevoeg kan word of nie.

Die petisie is by: https://www.change.org/p/establish-a-bus-route-going-from-kuilsriver-all-the-way-to-cape-town-cbd/c

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article