Verlede Woensdag was daar omtrent ’n gewoel en gedruis voor Margaret Pearce se huis in Sarepta.
Die radiostasie Heart FM se “16 Days for Youth”- inisiatief, wat ’n helpende hand met die hulp van borge bied, het Woensdag 1 Junie sy jaarlikse veldtog daar afgeskop.
Dié inisiatief fokus op die jeug en betrek verskeie borge om ’n verskil te maak.
Pearce sê “iemand” het vir Heart FM van haar vertel. Die wendyhuis wat as haar nasorg dien, kon doen met isolasie en elektrisiteit, en ’n kombuis is ook verlede week bygelas.
’n Hele paar mobiele eenhede het verlede Woensdag die straat vol gestaan – met Mary’s Soup Kitchen wat kos uitgedeel het, Mr Barber se bussie waar die kinders tougestaan het vir ’n “fader” en Dr Ryan Muller wat die jonges se tande nagegaan het en ook tandepasta en tandeborsels uitgedeel het, asook Heart FM wat uitgesaai het.
Pearce sê die vrywilligers was van 05:00 tot 18:00 op haar drumpel.
Tans is daar 55 kinders wat in twee groepe elke dag by haar nasorg is, vertel sy.
Die kinders wissel van gr. R tot gr. 6 – die oudste is 14. Die meeste is leerders van die Laerskool Irista, maar die laerskole Kalkfontein, Sarepta en Kuilsrivier is ook verteenwoordig.
Kinders is haar passie. Pearce sê die belangstelling het eintlik by haar eie ma begin.
Sy het vyf jaar na haar ma gekyk nadat sy siek geword het.
“Ek het haar opgepas tot die laaste dag. Ek het gesit voor haar kooi elke aand as sy slaap. Ek kon nie slaap nie, ek was bang iets gebeur met haar in die nag. (Toe) my ma te sterwe kom, het ek vir die Here gesê Hy moet iets op my hart lê om te doen.”
Pearce is betrokke by netbal, maar tydens Covid-19 het dit tot stilstand gekom. “Daai tyd toe kon ons nie speel nie, toe sit die Here dit op my hart wat ek moet doen – dié projek, want daar’s ’n groot need vir skoolgoed en klere in die gemeenskap, regtigwaar.”
Haar projek, wat nou geregistreer is as Save our Children Education, het begin by skoolpakkies – 30 skoenbokse vol skryfbehoeftes wat sy uitgedeel het vir kinders wat met skool begin (gr. R).
’n Paar maande later begin sy toe ’n biblioteek.
“Daar was net sand daar voor by ons …”
Al was daar toe net kratte om op te sit, het sy begin om kinders te leer lees, vertel sy.
“Toe begin ons hulle met hul skoolwerk help.” Daarna moes hulle die honger mae begin vul en iets gee om te eet.
“Ons wat daar is, werk mos nou nie – so ja, ons doen maar so – hier kry ons ’n bietjie, daar kry ons ’n bietjie. (Ons) krap maar ons eie potte en maak maar die potjie bymekaar.”
Pearce sê die “ons” is buiten haarself, haar suster wat die kos maak, ’n onderwyser (Erica Roberts) wat help met die klas, haar seun wat ry as iets iewers gehaal moet word, en Wilma, wat die administrasie hanteer.
Roberts help met die groter kinders en sy self help die kleintjies. Van die groter kinders word ook ingespan om te help kyk of die jongeres hul huiswerk reg gedoen het of te help waar hulle kan.
Pearce sê van die ekstra goed wat verlede week ontvang is, het sy ook in Delft gaan uitdeel – onder meer pads en naartjies”.
“Dis net hartseer om te sien die need in die gemeenskappe,’’ sê sy.
Alle hulp word waardeer, “want die kinders by ons is regtig minderbevoorreg”.
Die kinders by die nasorg kry kos en as daar genoeg skenkings is, word dit uitgegee in die gemeenskap. Pearce sê tans gaan gee sy ook gereeld vir vyf bejaardes kos by hul huise. “En vir mense wat ek weet daar is nie iets te ete nie, gaan gee ek ook ’n bak kos in die aand.”
Skenkings van skoolklere, skoene, skryfbehoeftes en kos is altyd welkom.
Bel Margaret Pearce by 072 238 3607.





