Bra’s, G-strings, menslike ontlasting in bottels en ook nou moontlik die hulp van die polisie.
Wat klink soos die begin van ’n goeie boek, is deel van ’n rillerbakleiery tussen twee groepe bure in Avondstil, Bellville.
Aan die een kant is daar die Hayman-gesin wat al jare in hul huis in Ionastraat bly. Aan die ander kant hul bure, studente wat in ’n huis bly wat deur My Student House bestuur word.
As jy na die Haymans luister, het alles begin toe ’n vroulike student in “’n bra en G-string wat by haar broek uitsteek” in die straat foto’s laat neem het.
Sue Hayman het dadelik uitgestorm en vir die student gesê sy mag nie so in die openbaar verskyn nie. Dit is immers openbare onsedelikheid, sê sy.
Maar die student het haar gevloek, beweer sy, en toe geslaan. Sy kon dit nie daar los nie en het haar toe teruggeslaan.
Hayman is polisie toe waar sy ’n klag teen die student aanhangig wou maak, maar is glo meegedeel sy kan nie omdat sy in hierdie geval teruggeslaan het.
Sedertdien is daar byna volskaalse oorlog tussen die twee.
Hayman het na TygerBurger uitgereik nadat die berig “Plan ’n fout” op 25 Mei gepubliseer is. Daarin praat Retha van Rooyen, hoof van My Student House, oor hoe hul studentebehuising werk en hoe hulle dit by ’n soortgelyke huis in De La Haye gaan implementeer.
Hayman sê sulke ontwikkelings moet gestop word. “Van wat ons kon sien, is die koshuismoeder so bang vir die studente dat sy bygestaan het toe een van die studente op my gevloek en gedreig het om my te moer,” sê Hayman. Sy sê die studente bly laatnag wakker en kuier in ’n oop veld langs hul huis, waar hulle tot laatnag “skree en geraas maak”, seks het en drink.
Boonop het die studente ’n video van hulle gemaak, wat hulle op die sosiale media-platform TikTok gedeel het, waarin hulle sê die Haymans is rassiste.
Bang
Die studente het ’n heel ander ervaring, blyk uit verklarings wat deur Van Rooyen, hoof van My Student House, aan die koerant gestuur is.
Hulle sê hulle word dikwels uitgejou wanneer hulle verby die huis loop en word rassistiese woorde toegesnou.
“Ons het vir ons lewens gevlug.”
Hayman ontken hierdie bewerings. Sy sê hulle besit nie eens ’n geweer nie.
Sy sê ook sy gaan regshulp inwin oor die “leuens”.
Die student, wat glo eerste vir Hayman geslaan het toe sy in haar bra foto’s laat neem het, sê ook sy is teruggehou en kon Hayman nie slaan nie.
“Ons is trots daarop dat ons ’n rol kan speel in die sukses van ons land se toekomstige leiers,” sê sy.
“Dit is nou op ’n punt waar ons in die proses is om ’n vredesbevel teen hulle te kry. Die studente is vreesbevange nadat hulle getuie was van ’n geval waar die bure ’n huislose (sic) aangerand het.”
Van Rooyen sê sy het kringtelevisiekameramateriaal van hoe die familie ’n sekerheidswag met ’n sambok gejaag het.





