Ná ’n stryd van meer as twee jaar gaan die sowat 57 straatmense wat in tente bly op die oop ruimte reg voor die Anglikaanse kerk en oorkant die Laerskool Durbanville, uiteindelik verwyder word.
Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se burgemeester, het verlede Donderdagaand by ’n sakenetwerkgeleentheid van Clara Business Network (CBN) in Clara Anna Fontein in Durbanville op ’n vraag uit die gehoor gesê hy het daardie dag die eerste uitsettingskennisgewing onderteken van nog talle reg oor die stad.
Hy het aan TygerBurger bevestig die uitsettingskennisgewing is om die straatmense in Baxterstraat te verwyder en na ’n veilige plek elders te verskuif.
’n Datum vir die uitsetting sal deur die hof bepaal word, het hy gesê.
“Ons gaan 750 nuwe bedspasies in veilige plekke voorsien in die volgende 18 maande, waarvan 150 reeds by Culemborg voorsien is, en nog 350 in komende maande in Groenpunt en Bellville voorsien gaan word. Daar kom ook beddens in Muizenberg en ons soek nog na ’n plek in Parklands.
“Dit gaan die Stad sowat R154 miljoen in die volgende drie jaar kos,” het hy gesê.
Aggressiewe gedrag
Die munisipale en plaaslike raadslid Theresa Uys het die afgelope twee jaar gereeld onder skoot gekom op sosiale media, “omdat niks aan die situasie gedoen word nie”.
Dit is egter ingevolge die Wet op Voorkoming van Onwettige Uitsetting (PIE Act) onwettig om straatmense te verwyder sonder dat verpligte prosesse gevolg is.
Mense het nie net gekla oor die onooglikheid van die tente en aggressiewe gedrag van die straatmense nie, maar ook oor die stank van menslike ontlasting en urine.
Gefrustreerde inwoners het gedreig om eie reg te gebruik en TygerBurger het herhaaldelik oor die kwessies berig (“Residents fed-up with vagrants”, 20 Julie; “Inwoners gemaan”, 3 Augustus; “Tentbewoner vas”, 10 Augustus; “Druk laai op teen ‘tentbewoners’ ”, 23 Augustus).
Meer as 2 500 inwoners het ’n petisie aan die Stad onderteken dat die straatmense verwyder moet word – slegs dae nadat dit begin is.
Die beplande uitsetting is ’n gekombineerde poging van die Stad en plaaslike organisasies soos MES Durbanville en Friends of Durbanville.
Ook die Laerskool Durbanville, wie se ouers en leerders dikwels aan die straatmense se antisosiale gedrag blootgestel is, het met gereelde klagtes druk op die Stad geplaas.
Hill-Lewis het by die netwerkgeleentheid gesê die Stad word nie wetlik toegelaat om ’n enkele hawelose te verwyder nie, maak nie saak watter ander wette hy oortree soos betreding of dwelmmisbruik nie – “nie sonder ’n uitsettingsbevel van die Wes-Kaapse hooggeregshof nie, en slegs as die Stad op sy eie koste alternatiewe akkommodasie aanbied”.
“Ons het die afgelope paar jaar met groeiende frustrasie toegekyk hoe die probleem deur die verskillende vlakke van regering aangegee word. ’n Mens kan aanhou toekyk hoe die probleem groei, of die bul by die horings pak,” sê hy.
Die akkommodasie sal stapelbeddens wees met twee maaltye per dag, badkamergeriewe, ’n verpleegster aan diens, asook ’n dokter een keer per week.
Akkommodasie sluit ook toegang tot werkplasing en sielkundige behandeling in.
Privaatheid vir paartjies
“Elke straatmens sal persoonlik geassesseer word. In baie gevalle is hulle nie in ’n toestand om te praat nie, maar dan sal veldwerkers ’n tweede en derde keer teruggaan. Ons gaan dit op video opneem as bewys dat dit wel gedoen is.
“In die meeste gevalle sal straatmense egter steeds die aanbod van alternatiewe akkommodasie verwerp. Een van die redes is privaatheid vir paartjies. Daarom word daar nou by Culemborg 18 private kamers vir paartjies en gesinne ingerig.
“ ’n Ander rede is dat hulle nie dwelms by veilige plekke mag gebruik nie. Ons kan dit nie in ons fasiliteite toelaat nie,” het hy gesê.





