Geordin Hill-Lewis (links), burgemeester van Kaapstad, en JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, staan weerskante van een van die snelwegpatrollie-eenheid se nuwe voertuie. Foto: Adrian de Kock


Met die feestyd op hande is dit van kardinale belang dat die publiek ekstra veilig moet wees in winkelsentrums.

Inwoners van Goodwood wil ook die publiek waarsku om versigtig te wees, veral nadat daar verskeie diefstalvoorvalle in besonder in Checkers in die N1 Stad-winkelsentrum plaasgevind het.

Dit het aan die lig gekom toe ’n bekommerde inwoner vertel het hoedat sy en haar dogter in Checkers in dié winkelsentrum inkopies gedoen het.

“My dogter het die trollie gestoot en ons was agter by die yskaste; sy wou sap uit die yskas kry. Skielik was daar ’n klomp mense en sy sê daar was ’n vrou met ’n trollie wat haar half blokkeer het. Hulle wou albei na verskeie kante toe beweeg, en elke keer as sy na ’n kant toe wou beweeg, het die vrou haar daar weggehou.

“Toe ons eindelik uit die groep mense is en sy in haar handsak kyk, was haar selfoon weg. Ek het haar teruggestuur om in die motor te gaan kyk.”

“Ek het dadelik na haar foon gebel en gehoor wat niemand wil hoor nie.”

Die inwoner vertel dat haar dogter dadelik die voorval by bestuur in Checkers gaan aanmeld het en hulle na beeldmateriaal van die kameras gaan kyk het, maar “die kameras sien ook nie alles nie”.

Ná ’n waarskuwing op ’n WhatsApp-groep het nog mense bekendgemaak hoe hulle ook al in Checkers beroof is.

Selfone word uit handsakke gesteel en mense word van hul geld beroof. Mense het ook al beweer dat hulle uit Checkers agtervolg is en dat hulle in ander winkels in moes hardloop.

Een persoon het gesê sy is op pad na JP Smith toe oor wat met haar in Checkers gebeur het, en dat die kameras net op sekere plekke kan sien.

Volgens Checkers se hoofkantoor is die supermarkgroep ten volle daartoe verbind om ’n veilige inkopie-omgewing te verskaf en doen hy alles in sy vermoë om sy klante so ver moontlik te beskerm.

Misdaad neem toe

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid, sê die Stad Kaapstad is bewus van die feit dat opportunistiese misdade gedurende hierdie tyd van die jaar kan toeneem.

Die Stad doen dus ’n beroep op die publiek om:
  • altyd bewus te wees van hul omgewing;
  • nie hul aandag deur hul selfone te laat aftrek nie, veral wanneer hulle van die winkelsentrum na die parkeerterrein gaan, of wanneer hulle by die huis aankom nie;
  • hul voertuie in goedverligte gebiede te parkeer;
  • waardevolle artikels buite sig te hou, en om inkopies in die bagasiebak van hul voertuig te hou terwyl hulle buite is;
  • ekstra waaksaam te wees wanneer hulle kontantonttrekkings maak, veral by OTM’s;
  • nie in onbekende gebiede rond te dwaal nie;
  • altyd seker te maak hul foon is genoeg gelaai sodat hulle hulp kan ontbied in geval van nood;
  • die nommer van die Stad se openbare noodkommunikasiesentrum op hul foon te hou – daardie nommer is 021 480 7700 vanaf ’n selfoon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article