Vrou op naam genoem voordat sy by huis in Durbanville aangeval is

No caption found


Daar was Maandag min buite ’n huis in Eversdal wat aangedui het op die gewelddadige aanval wat verlede week daar plaasgevind het.

’n Sterk staalhek beskerm die voordeur en ’n groot hond blaf agter die hek waar mans verlede week ’n vrou op die naam genoem het voordat hulle haar aangerand het.

Die twee mans het glo gesê hulle is daar om ’n pakkie af te lewer. Toe die vrou die hek oopmaak, het die rowers haar met die loop van ’n pistool aangerand.

Die huis in Stepping Stonesweg, wat naby die beginpunt van ’n stegie is wat baie ouers en kinders gebruik om by die Laerskool Eversdal uit te kom, het verlede Donderdag helderoordag om 16:12 plaasgevind.

Nadat hulle die vrou aangerand en in die huis ingedwing het, het die rowers ’n mes teen haar keel gehou en geld geëis, wat hulle toe saam met Samsung-selfone gesteel het.

’n Ander man wat deel was van die groep, het buite in die Kia Picanto waarin hulle daar aangekom het, sit en wag.

Seun op toneelVolgens Kendal Road Community se Facebook-blad het die vrou se seun toe by die perseel aangekom en die man in die kar het laat spaander. Toe die seun die huis binneloop, het die ander twee rowers te voet weggehardloop.

Die seun en plaaslike sekerheidsmaatskappye het die mans gaan soek en hulle in Somerstraat gekry. Hulle is in hegtenis geneem.

Net ná die voorval, het ’n vrou, wat nie haar naam genoem wou hê nie, op die toneel gesê haar tuin is vir wapens deursoek. Verskeie voertuie van verskillende sekerheidsmaatskappye het buite die huis gestaan.

“Ek gaan nie vanaand hier slaap nie.”

By die huis waar die vrou in Stepping Stonesweg aangerand is, het daar ook verskeie voertuie gestaan.

Polisielint het die voorkant van die huis afgesper en klomp klere het langs ’n vangwa gelê.

Kapt. Marchell Rhode, woordvoerder van die Durbanville-polisie, het die voorval bevestig en gesê twee mans van onderskeidelik 33 en 40 is gearresteer.

“Volgens (die polisielede) is (die rowers) nie ver daarvandaan met die gesteelde goedere gevind nie.”

Hulle het op aanklagte van huisroof en die besit van gesteelde goedere in die Bellville-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article