Die wrak van Helmien van Eeden se motor ná die botsing.


‘n Vrou van Brackenfell wie se lewe drasties verander het ná ’n botsing reg van voor teen ’n vermeende dronkbestuurder in Kuilsrivier, sê sy voel soos net nog ’n statistiek.

Tien maande later is Helmien van Eeden (55) van Sonkring vol woede en vrae oor die verloop van die saak.

“Ek is woedend dat die mense wat my moet beskerm en seker maak dat hierdie persoon wat moontlik lewens kos weens dronkbestuur, aan die pen ry, my net eenvoudig faal. Nie net vir my nie, maar soveel ander ook.

‘’Die boodskap wat hulle uitstuur is dat dronkbestuurders nie vervolg word nie en dat my lewe nie vir hulle saak maak nie,” sê sy.

Die botsing het op Saterdag 30 September omstreeks 20:45 in Amandelrylaan gebeur waar die spoedbeperking toe te midde van die padwerke 40 km/h was.

“Ek is vasgevang in ’n rolstoel en moes baie aanpassings maak as gevolg van hierdie dronk man.”

Van Eeden vertel sy was die aangewese bestuurder en op pad om drie kollegas ná ’n geselligheid huis toe te neem toe die ander voertuig aan die verkeerde kant van die pad op hulle afgepeil het.

LEES OOK | Polisie het ‘nog niks gedoen’ 21 maande nadat vriendin in botsing sterf

“Twee van ons het baie seergekry. Die ander bestuurder het niks oorgekom nie. Hy het erken hy is dronk en is op die toneel in hegtenis geneem,” sê Van Eeden.

“Ek was vir ses weke in die hospitaal met agt gebreekte ribbes en ’n sternum (borsbeen) wat middeldeur gebreek het. My linkerbeen se tibia en fibula was morsaf, my rug het drie frakture opgedoen en my enkel is vergruis en het ná vier operasies nog nie weer aangegroei nie.”

Van Eeden vertel sy het haar werk en goeie inkomste verloor en verkeer steeds daagliks in pyn.

“Ek is vasgevang in ’n rolstoel en moes baie aanpassings maak as gevolg van hierdie dronk man.”

Frustrasie

Dit is die skynbare gebrek aan optrede wat Van Eeden pla.

“Die persoon wat die ongeluk veroorsaak het, is toegesluit vir die Saterdagaand en Sondag en het vlugtig op Maandag 2 Oktober (in die hof) verskyn. Daarna is aan ons genoem dat die polisie wag vir sy bloedtoetsuitslae en dat dit voor einde Maart by hulle behoort te wees.”

Van Eeden sê dit lyk vir hulle of die speurders nog niks gedoen het om die saak op te volg nie.

“Hulle antwoord nie hul fone nie. Ek en my seun was al by hul kantore, wat nie rolstoelvriendelik is nie. Daar is vir ons vertel die speurder wat aan die saak werk, is nooit op kantoor nie en die lêers stapel op.”

Sy sê die speurders het haar en die ander drie insittendes se inligting gehad, maar hulle nooit gekontak sodat hul verklarings afgeneem kon word nie.

Sy vertel haar seun het een van die beamptes gebel wat sy nommer aan hom gegee het om navraag te doen omdat die beskuldigde se bloedtoetsuitslae al moes gekom het.

Hulle het toe gehoor die saak sal op 27 Junie in die hof wees, maar toe hulle die dag by die Kuilsrivier-hof kom, was dit die ‘’verkeerde saaknommer –  díé van ’n aanrandingsaak”.

“’n Vrou daar het toe gesê dalk is die saak by Blue Downs-hof. Ons is soontoe, maar dit was ook nie daar nie. Toe ry ons na die Kuilsrivier-speurders se kantore.”

Van Eeden beweer die skofhoof het toe aan haar seun gesê dat hy hom die Maandag (1 Julie) sou bel om te bevestig of die konstabel (wat die saak moet ondersoek) aan diens is, maar dit het nie gebeur nie.

Sy sê verlede week het sy, nadat sy met ’n kliënt in die polisie gepraat het, ’n oproep van die skofhoof gekry.

“Hy het gesê dat ons onderneem het om die speurder Woensdag 3 Julie te kom spreek en dat sy vir ons gewag het, maar ons het nooit opgedaag nie.

“Ek het vir hom genoem dat ek nie sou toestem tot ’n vergadering by hul kantore nie, aangesien hul kantore nie rolstoelvriendelik is nie.”

Kort nadat TygerBurger verlede week ’n navraag aan die Kuilsrivier-polisie gestuur het, het die speurder Van Eeden gekontak en ’n afspraak gemaak om haar Maandag tuis te besoek.

Polisie reageer

Van Eeden het aanvanklik genoem dat haar voertuig se registrasienommer verkeerd aangeteken was. Die Kuilsrivier-polisie het dit Maandag in hul antwoord ontken.

“Die registrasienommer is dieselfde as op die saakdossier en die slagoffer het dit vandag (Maandag) met die speurder as korrek bevestig.”

Van Eeden het Maandagmiddag ’n kopie van die polisie se ongelukverslag (AR-vorm) aangestuur. “My motor se registrasienommer is korrek maar my adres is verkeerd (die straatnommer se twee syfers is omgeruil).”

Volgens haar is die beskuldigde se registrasienommer wel verkeerd opgeteken – een syfer is as ’n nul in plaas van ’n ses aangeteken.

Oor waarom geen verklarings verkry is nie, sê die polisie dat Van Eeden met hul aankoms op die ongelukstoneel reeds na die hospitaal vervoer is “en dat geen details van die ander insittendes beskikbaar was vir verklarings nie”.

“Die speurder het vandag (Maandag) een van die slagoffers (Van Eeden) besoek om haar verklaring te kry. Sy het ook die detail van die ander slagoffers gekry sodat hul verklarings geneem kan word.”

LEES OOK | Rekord van dronkbestuur en ongeluk in Blackheath glo skoonveld, polisie sloer met antwoord

Volgens die polisie is die saak deur die staat geopen en was hulle dus nie bekend met die slagoffer (Van Eeden) nie.

“Volgens prosedure word die saakdossier na die hof gestuur nadat die beskuldigde aangekla is. Slegs wanneer die dossier van die hof af terugkom, word daar normaalweg per SMS terugvoer aan die klaer gestuur, maar in hierdie geval was die slagoffer onbekend en is geen terugvoer dus gegee nie.”

Wat verwarring oor die saaknommer betref, sê die polisie dat die dronkbestuursaak se nommer sedert die begin van die saak af korrek is.

Die speurder wag steeds op die bloedtoetsuitslae van die beskuldigde.

AO Liesel Beukes, woordvoerder, het by navraag oor hoekom die uitslae ná 10 maande nog uitstaande is, gesê die polisie het geen insae hierin nie aangesien dit ’n laboratorium-aangeleentheid is.

Van Eeden sê die konstabel wat haar Maandag besoek het, het onderneem om haar op hoogte te hou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article