Twee vroue wat vermoedelik deel is van ’n sindikaat wat mense in winkelsentrums beroof, het op die verkeerde dag die verkeerde persoon geteiken.
Lt.kol. Kesia Terry-van der Westhuizen het Woensdag om 17:10 haar inkopies by Checkers Boulevard Square in Brackenfell gaan doen toe die vermeende sakkerollers haar by die varsprodukte-afdeling ingewag het. Die een vrou het ’n pers windjekker aangehad en die ander een ’n wit hemp.
“Een vrou het in haar vasgeloop en haar aandag afgetrek terwyl die ander een haar selfoon uit haar broeksak gesteel het,” vertel haar man, die speurder AO Gysbert van der Westhuizen verbonde aan die Durbanville-polisie.
’n Minuut of wat later het sy gevoel haar foon is weg en het dadelik besef wat gebeur het. Sy is die twee vroue agterna en het hulle gegryp net toe hulle die winkel wou uitstap.
“Met die hulp van die winkel se sekuriteitsbeampte is die vroue aangekeer en na die winkelbestuurder se kantoor vergesel. Sy het my geskakel en terwyl ek onderweg was soontoe het die winkelbestuurder my begin bel. Met die aanhoudende gelui het die beampte die foon gekry waar dit onder pynappels in ’n kosmandjie versteek was.
sê Van der Westhuizen.
Met sy aankoms is die video-beeldmateriaal deurgegaan waar die voorval duidelik gesien kon word.
By verdere ondersoek is daar ook ontdek dat al twee verdagtes reeds ’n kriminele rekord het, en op lasbriewe gesoek word in Paarl, Stellenbosch en in verskeie Noordelike Stadsgebiede.
Die verdagtes is deur die Brackenfell-polisie in hegtenis geneem op aanklagte van roof en die besit van gesteelde goedere en sal Maandag in die Kuilsrivier-landdroshof verskyn.





