Joe Emilio oorhandig die eerste prys aan Adrian Matthee (26) by vanjaar se DNA Café Stand-up Comedy Showdown, wat op Vrydag 6 September in Kuilsrivier plaasgevind het.


Trane van lag het op Vrydag 6 September gerol toe Adrian Matthee, die bekroonde wenner van die DNA Café se Stand-up Comedy Showdown, met sy Afrikaanse grappe met ’n Zoeloe-inslag losgetrek het.

“Die eindstryd van die kompetisie was niks minder nie as boeiend van begin tot einde. Die gehoor was byna eenparig, met 99% wat hul stem vir Adrian uitgebring het,” sê Joe Emilio, komediant en mede-organiseerder. 

LEES | Lees die nuutste digitale weergawe van die TygerBurger hier

Die 26-jarige Parklands-grapjas werk bedags vir ’n maatskappy wat sagteware skep en hardeware aan gholfbane oor die wêreld heen verskaf.

“Komedie is iets wat ek nog altyd wou doen en dit is vir my baie terapeuties om my storie uit te kry en my ervarings te deel.”

Hy het ’n paar vertonings gelewer toe hy jonger was, maar ná ’n bietjie meer lewenservaring het hy dit goed geag om weer te probeer.

“Ek het nie vir ’n oomblik geglo ek sou kon wen teen sulke wonderlike komediante wat al meer as ‘n jaar of twee optree nie. Ek gee nog nie my day job op nie, maar ek gaan beslis meer stand-ups doen en probeer om my komedieloopbaan te laat groei tot ’n punt waar ek dit permanent kan doen.”

Kleurvolle kinderjare

Oorspronklik van Goodwood, het Matthee die meeste van sy grootwordjare in Tulbagh deurgebring met sy ouers wat hom as pasgebore babatjie aangeneem het.

“Ek is in 1997 in die Groote Schuur-hospitaal gebore en aangeneem toe ek vyf dae oud was. Albei my biologiese ouers was Zoeloe en die rede vir my aanneming was dat my biologiese ma, Precious Nkuma, baie jonk was en nie ’n stabiele inkomste gehad toe sy my verwag het nie.

“My pa het verdwyn toe hy uitgevind het sy is swanger. Sy het haarself belowe dat sy op die bes moontlike manier vir my sou voorsien,” sê Matthee.

Dis waar sy aanneemouers, Hennie en Melody Matthee, inkom.

“Hulle was pasgetroudes wat graag ’n kind wou hê. Ongelukkig het die dokters, weens redes buite hul beheer, vir hulle gesê dit sou nie moontlik wees om hul eie kinders te hê nie, en dit is toe dat hulle besluit het om my aan te neem.”

Sy komedie-styl is gegrond op sy ervaring as ’n swart seun wat sy weg tussen wit en bruin Afrikaanse eweknieë moes uitkerf.

Matthee glo sy seldsame lewenservaring gee hom beslis ’n unieke uitkyk oor die lewe, sowel as sy sin vir humor.

“Ek het nog altyd grootgeword as te wit om by die swart skare in te pas en te swart om by die wit skare in te pas. Toe ek jonger was, was dit ‘n bietjie eensaam en ek het soos ’n buitestander gevoel, maar soos ek ouer en wyser geword het, het ek dit as ‘n seën begin sien aangesien ek ‘n unieke, onbevooroordeelde perspektief kon vorm. Ek wens meer Suid-Afrikaners kon dit ervaar.”

Lag lekker saam

Hy glo dat meer dinge Suid-Afrikaners bymekaar bring as wat ons onderskei, “so daar is ‘n magdom materiaal wat ons as Suid-Afrikaners het wat ons almal saam deurmaak – van die letsels van apartheid tot beurtkrag”.

Hy sê hy skram nie weg van ’n hoogs politiek-korrekte gehoor nie.

“Al my komedie tot dusver gaan oor my en my lewenservarings, so vir my is dit nie ek wat beledigend is nie; dit is my lewe,”

 meen Matthee.

“Ek is gelukkig genoeg dat ek vriende van oral en van alle verskillende kleure, oriëntasies en vlakke van die lewe het. As jy net met een soort groep mense assosieer, sal jy waarskynlik nie eens weet wat vir ander aanstootlik is nie.

“As jy ‘n goed deurdagte grap kan vertel wat almal laat lag, is dit soveel beter as om een groep af te breek.”

Internasionaal is Richard Pryor en Bernie Mac en Fluffy sy gunsteling-komediante. Meer plaaslik is hy ’n groot aanhanger van wyle Tolla van der Merwe, Schalk Bezuidenhout en Trevor Noah. 

“Trevor Noah is die suksesvolste komediant wat nog ooit uit Suid-Afrika gekom het, so dit maak sin hoekom mense plaaslike komediante met hom vergelyk. Baie mense sê vir my ‘hei, jy probeer soos Trevor Noah wees’, maar met alle respek wil ek eerder as die eerste Adrian Matthee bekend wees, en nie die volgende Trevor Noah nie.

“Ek maak my eie weg – dit is my droom.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article