‘n Unieke kinderbeskermingsprogram wat kleuters se vingerafdrukke en profiele dokumenteer, het op Vrydag 29 Mei sy amptelike bekendstelling gehad by Shoprite in Belmont Park, Kraaifontein.
Die inisiatief, wat deur die Kraaifontein-polisie gedryf word, is deel van die nasionale Maand van Kinderbeskerming wat elke Mei plaasvind. Nasionale Kinderbeskermingsweek het vanjaar van 25 Mei tot 5 Junie gestrek.
LEES OOK: Teen 2030 moet kinderhuise verlede tyd wees — dít is die plan
Altesaam 112 kleuters van Sinethemba Educare en Noah’s Home Educare het aan die program deelgeneem. Die program het begin met sang en dans, en die kinders is in twee groepe verdeel, een vir die inkleursessie en een vir die profileringstasie waar hul vingerafdrukke geneem is.

Die kern van die program is ‘n spesiaal ontwerpte boekie wat dit vir die polisie en ander rolspelers makliker maak om na ‘n vermiste kind te soek, asook om bewusmaking te skep oor vermiste kinders en ouers se verantwoordelikheid om hul kinders te alle tye veilig te hou.
“Die boekie bevat die kind se naam, lengte, gewig, liggaamsbou, ‘n kleurfoto, vingerafdrukke, asook enige uitstaande kenmerke soos littekens of ‘n geboortemerk,” sê AO Louise Strydom.
Rolspelers werk saam
By die geleentheid was verskeie belanghebbendes teenwoordig, onder wie lede van Kraaifontein se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, Badisa, die Stad Kaapstad, asook die Eikendal- en Scottsdene-biblioteke, almal organisasies wat daagliks met die gemeenskap se jongste en mees kwesbare lede werk.
Twee nie-winsgewende organisasies het skenkings verskaf wat aan die kinders oorhandig is. Sexy Sox het aan elke kind ‘n paar sokkies geskenk, terwyl TKZ Sopkombuis eet- en drinkgoed verskaf het.
“Kinders kan nie hulself beskerm nie, dit is ons plig as gemeenskap om dit vir hulle te doen. Hierdie week is nie net ‘n kalender-gebeurtenis nie; dit is ‘n oproep tot aksie. Elke ouer wat weet waar hul kind is, elke volwassene wat ‘n verdagte situasie aanmeld, en elke kind wat weet hy of sy kan hulp vra, dít is wat hierdie week beteken. ‘n Vermiste kind is een te veel, en as ons vroegtydige stappe soos hierdie neem, vergroot ons die kans om hulle veilig te hou voordat dit te laat is,” sê Strydom.




