Die Bishop Lavis-polisie het twee moorddossiere geopen nadat twee mans Woensdagaand in Valhalla Park doodgeskiet is.
Ingedwing
Die twee mans is na bewering in ‘n slaapkamer in ‘n huis in Hilder-straat geskiet nadat die vermeende skieters hulself by die huis ingedwing het.
Volgens sers. Samantha Adonis, polisiewoordvoerder, is die polisie Woensdagaand omstreeks 20:40 na ‘n toneel ontbied, waar hulle twee mans, 22 en 24 jaar oud, in ‘n bebloede kamer aangetref het. “Die beamptes is ingelig dat die twee mans in die kamer gelê en slaap het toe twee verdagtes die vertrek ingegaan en op hulle losgebrand het. Beide die oorledenes het veelvuldige wonde aan hul bolywe gehad. Twee moordsake word ondersoek,” sê Adonis.
Help met inligting
Sy kon nie bevestig of die skietery bendeverwant is nie, maar het ‘n beroep gedoen op die publiek om die polisie met inligting te nader wat die polisie met die ondersoek kan help.





