Die Kuilsrivier-polisie het Vrydagoggend Kinderbeskermingsweek, wat van 29 Mei tot Vrydag 5 Junie gehou word, met ‘n besoek aan die Kleintyd Akademie-kleuterskool begin. ‘n Program vol pret en afwisseling is vir die kleuters en peuters aangebied, waarin praktiese wenke om hul veiligheid te help verseker op ‘n speelse wyse oorgedra is.
AO Estelle April het die program gelei met verskeie rolspelers wat by gemeenskapsveiligheid betrokke is wat tot die oggend bygedra het.

Sers. Caswell Julies van die metropolisie het gesorg dat die kinders eers litte losmaak met ‘n saamsingliedjie vol bewegings.
Daarna het April met die jongspan oor persoonlike veiligheid gesels. Hulle het geleer wat hulle moet doen as vreemdelinge onvanpas teenoor hulle optree en het luidkeels die noodkreet, “stranger danger!” uitgeroep. Die polisie se noodnommer, 10111, is met vingerbewegings geoefen.
Lynn Hendricks van Badisa en Victorino Manuel van AFM Welfare het ‘n poppevertoning aangebied oor gedrag en die verskil tussen aanvaarbare en onaanvaarbare aanraking. “Ons het nie geheime nie,” het Manuel vir hulle gesê. Tussendeur is nog ‘n paar liedjies gesing om die kriewilrigheid in toom te hou.
Ter afsluiting is die kinders se gesiggies met gesigverf en plakkertjies versier. Lekkergoed en skyfies, wat deur die gemeenskapspolisiëringsforum geskenk is, is aan die personeel oorhandig om vir die kinders uit te deel as beloning omdat hulle mooi stilgesit en geluister het.
’n Anonieme skenking van doeke, asook pamflette met nuttige inligting vir noodgevalle, is ook aan Kleintyd oorhandig.
LEES OOK: Hou kinders veilig dié vakansie, vra Badisa
Gallery






















You must be logged in to post a comment.