In plaas daarvan om `n kind uit sy huis te verwyder, moet gesinne vroegtydig ondersteun word, voordat die krisis tref.
Dié proaktiewe benadering is deel van ‘n groter nasionale plan om institusionele kinderversorging in Suid-Afrika teen 2030 uit te faseer, en meer kinders in gesinsgebaseerde sorg te plaas. In ooreenstemming hiermee sal Badisa Trio Kraaifontein voortaan daarop fokus om voorkomend met gesinne te werk.
“Die nasionale beleid is besig om weg te beweeg van die plasing van kinders in kinder- en jeugsorgsentrums, voorheen bekend as kinderhuise, na meer gesinsgebaseerde alternatiewe sorg, soos pleegsorg,” verduidelik Jacques Voigt, maatskaplike werker by Badisa Trio wat beide die Kraaifontein- en Brackenfell-gebiede bedien.
Voigt het met die aanvang van Kinderbeskermingsweek Vrydag met TygerBurger gesels oor die belangrike keerpunt in kinderwelsyn.
Die doel van hierdie benadering, sê hy, is nie noodwendig om alle kinder- en jeugsorgsentrums oornag te sluit nie, maar eerder om te verseker dat minder kinders uit hul gesin se sorg verwyder word om in institusionele sorg groot te word.
Groot druk
Derhalwe plaas die nuwe benadering groot druk op instansies soos Badisa om voorkomende werk in gemeenskappe uit te brei, veral in die Wes-Kaap waar daar tans 43 000 kinders in pleegsorg is, en nog 2 800 in kinder- en jeugsorgsentrums.
By Badisa Trio word merendeels gevalle van seksuele mishandeling, fisieke mishandeling, kinderverwaarlosing, en emosionele mishandeling aangemeld. “Hierdie fokus op voorkomende en vroeë intervensiedienste is ’n noodsaaklike kopskuif en dit maak my opgewonde oor die toekoms van ons werk. Dit is nie ’n nuwe konsep nie, en Badisa het reeds in die afgelope paar jaar goeie vordering gemaak met hierdie oorgang na voorkomemde kinderbeskerming,” sê Voigt.
Dié aanslag berus op ‘n kombinasie van sorgprogramme en gemeenskapswerk, ‘n proaktiewe strategie wat dit moontlik maak om kinders en gesinne te bereik lank voordat noodkrete Badisa se kantore bereik.
“Groepwerk en poppekaste in skole word gebruik om kinders met lewensvaardighede toe te rus en emosionele ondersteuning te bied, en pleegkinders word ondersteun tydens vakansieprogramme,” sê Voigt.
Intervensie noodsaaklik
Ook ouerleiding- en ondersteuningsgroepe help om ouers in hul noodsaaklike rol te bemagtig, terwyl nuwe veiligheidsouers en pleegouers voortdurend gewerf word om die netwerk van alternatiewe sorg uit te brei.
“Ons kantoor se gelukbringer, Kuumba, word gebruik om die wanindruk van maatskaplike werkers as ‘mense wat kinders wegvat’ te korrigeer en te wys dat ons mense is wat hoop, ondersteuning en veiligheid bring.”
Voigt sê voorkomende en vroeë intervensiewerk is nie net belangrik nie, maar noodsaaklik.
“Dit is waar ons eintlik die belangrikste vooruitgang maak in die samelewing. Ek moet egter erken dat ek soms angstig word as ek dink aan die enorme behoefte wat steeds bestaan op ons gevalleladings, en hoe afhanklik ons van kinder- en jeugsorgsentrums is,” sê hy.
As maatskaplike werker het Voigt besef dat talle kinders nie maklik in pleegsorg geïntegreer kon word nie. “Sommige was reeds gewoond aan ‘n moeilike lewe op straat, waar hulle geen begrip van maatskaplike norme of struktuur gehad het nie. Ander het met ernstige dwelmverslawing, diep trauma of ernstige sielkundige versteurings geworstel. In sommige gevalle is pleegsorg gepoog, maar sonder sukses, of daar was nie enige pleeggesinne beskikbaar nie.”
LEES OOK: Golf day raises funds for Badisa
Een van die hartseerste realiteite van kinderbeskermingswerk, sê hy, is dat nie elke sorgbehoewende kind se verhaal in ‘n veilige, stabiele gesin eindig nie.
“Vir sekere kinders bly kinder- en jeugsorgsentrums ‘n kritieke deel van die beskermingsnetwerk, nooit as die eerste opsie nie, maar as ‘n noodsaaklike laaste uitweg. Hierdie sentrums bied die stabiliteit, professionele ondersteuning, en gestruktureerde omgewing waarsonder sommige kinders nie kan funksioneer nie.”
Daar is nie eenvoudige antwoorde nie. Maar met voorkomende werk kan die breër gemeenskap self ook ‘n rol speel om kinders se veiligheid te verseker.
Hoewel vordering gemaak word om voorkomende werk uit te brei, erken die organisasie dat dit inherente beperkings het, en dat ‘n chroniese gebrek aan finansiering en hulpbronne die doeltreffendheid daarvan verder inperk.
” ‘n Brandweerman kan nie ‘n vuur blus sonder ‘n brandweerwa nie,” is die vergelyking wat gebruik word. Net so kan maatskaplike werkers nie die ideale van voorkoming en familiebehoud alleen dra sonder voldoende ondersteuning, kapasiteit en hulpbronne nie. Maar ten spyte van hierdie uitdagings, bly Voigt optimisties.
“Daar is nie eenvoudige antwoorde nie. Maar met voorkomende werk kan die breër gemeenskap self ook ‘n rol speel om kinders se veiligheid te verseker, voordat kinder- en jeugsorgsentrums ooit ter sprake kom. Elke gesin wat betyds ondersteuning ontvang, elke kind wat deur vroeë intervensie bereik word, en elke nuwe pleegouer wat bereid is om hul huis oop te stel, skep nuwe hoop in die gemeenskap,” sê Voigt.
Implikasies in die Wes-Kaap
Die Wes-Kaap se Departement van Maatkskaplike Ontwikkelng het in Februarie standpunt ingeneem oor die implikasies van dié hervorming waaroor in Januarie in Johannesburg beraadslaag is in die afwesigheid van die provinsie.
“Dis waar dat ‘n gesinsomgewing ideaal is vir enige kind. Tog is daar in die Wes-Kaapse konteks ‘n groeiende behoefte aan kinder- en jeugsorgsentrums vir kinders van alle ouderdomme wat om verskeie redes nie by gesinne geplaas kan word nie. Dit sluit kinders met ernstige gestremdhede in, sowel as kinders met gedragsprobleme,” sê Esther Lewis, departementele woordvoerder.
“Maar die rol van voorkomende sorg bly noodsaaklik, en met dié doel voor oë sal ons ons vroeë-intervensie, gemeenskapsgebaseerde sorgprogramme voortsit wat daarop gemik is om gesinne te versterk.”




