Wanneer laas het jy gelag tot jy rekmerke gekry het?
Dit is wat Lyntjie Jaars en Warren “Auntie Katriena” Louw belowe wanneer hulle op Sondag 16 Augustus die Brackenfell-burgersentrum met hul Comedy Night oorneem.
Oppie Stoep
Jaars is veral bekend om haar aanbiedersrol op die storievertelprogram Oppie Stoep en is geliefd onder Suid-Afrikaners met haar eg Namakwalandse aksent. Louw het tydens die Covid-inperkingstydperk aanlyn bekendheid verwerf met sy nabootsing van ‘n Richterveldse vrou en haar spitsvondighede.
Louw het onlangs ‘n terugkeer na die polisie gemaak, waar hy voorheen ‘n speurder was, maar hy vergeet nooit sy rol as vermaaklikheidskunstenaar nie. “Ek en Lyntjie is so opgewonde dat ons albei nou in die Kaap is. Ek is terug in die polisie en werk nou in die Kaap sodat ek my naam verder in die vermaakbedryf kan uitbou,” sê hy.

Noord-Kapenaars
Dit is nie per ongeluk dat die twee Noord-Kapenaars besluit het om saam te werk nie. “Ek en Lyntjie werk al jare saam en het al vertonings in verskillende plekke gedoen, tot so ver as Namibië. Ons reken toe, ons woon nou albei in die Kaap, so ons kan net sowel vir die Kaapse mense wat ons ondersteun ‘n vertoning hou. Ons kom geografies van dieselfde omgewing af en deel dieselfde lewenservaringe,” sê hy.
Volgens hom kan mense uitsien na ‘n vertoning propvol energie, lekker lag en ontspanning. “Die meeste van my ondersteuners is Kapenaars. Dus nooi ek almal uit om saam met my en Lyntjie die winterkoue te kom weglag,” sê hy.
LEES OOK: ‘Suidooster’ se Dean Smith kry sy eie TV-vermaakprogram






You must be logged in to post a comment.