Die nie-winsgewende welsynorganisasie Badisa het Maandag laat weet dat talle van sy kantore gesluit is weens die erge stormweerstoestande.

In ‘n skrywe wat Maandag op sosiale media uitgereik is, sê die organisasie dat sommige van sy kantore ook probleme met elektrisiteit, telefone, en Wi-Fi ervaar wat kommunikasie en toeganklikheid beïnvloed.

“Ons moedig almal aan om, waar moontlik, van die huis af te werk, onnodige reis te vermy en veilig te bly,” lui die skrywe.

Noodgeval

In geval van dringende kinderbeskermingskwessies en lede van die publiek wat nie deurkom na ‘n Badisa-kantoor nie, word hulle aangemoedig om die polisie onmiddellik te kontak. Van die organisasie se kantore het ook noodselfoonnommers op hul antwoorddienste beskikbaar, indien die krag aan is.

“Ons residensiële fasiliteite gaan voort met normale bedrywighede. Die veiligheid en welstand van ons inwoners bly ons hoogste prioriteit,” lui die skrywe.

Groot dele van die Wes-Kaap word sedert Sondag deur sterk wind, swaar reën en vloede geteister. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n oranje- vlak 8-weerswaarskuwing die naweek uitgereik vir groot dele van die provinsie, insluitend die Kaapse-metropool, Weskus, Kaapse Wynlande en dele van die Overberg.

LEES OOK: Hou kinders veilig dié vakansie, vra Badisa

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article