Wêreld-donkiedag word jaarliks op 8 Mei gevier en vanjaar val dit saam met Eseltjiesrus Donkey Sanctuary se groot boekefees.
Boekliefhebbers kan daarna uitsien om weer na hartelus te kom snuffel by die jaarlikse Eseltjiesrus-boekefees van 7 tot 9 Mei by die NG kerk Robertson-Oos. Daar gaan duisende tweedehandse boeke en talle splinternuwes wees om van te kies. Of jy nou na kookboeke, reisverhale, kinderboeke, digbundels of ’n rare en kosbare boek soek, daar is meer as genoeg verskeidenheid. Nuwe voorraad word daagliks tydens die fees-week uitgepak.

Die meeste van die boeke sal teen R30 elk verkoop word, maar daar gaan ook uitgesoekte koffietafelboeke wees wat afsonderlik gemerk sal wees. `n Keur van uitsonderlike boeke gaan op ‘n skriftelike veiling beskikbaar wees. Belangstellendes kan op ‘n vorm bie en die boeke sal aan die hoogste bod toegeken word.
Skuiling
In 2001 het dr. Johan en Annemarie van Zijl van die dorpie McGregor gereageer op ‘n versoek van die DBV om skuiling te bied vir twee erg verwaarloosde donkies. Die twee donkies wat opgedaag het, is Vaal en Japie genoem.
Dit het gou duidelik geword dat daar baie ander donkies was wat ook dringend voedsel, water, skuiling en sorg nodig gehad het. Die droom van ‘n donkie-reservaat is gebore. Eseltjiesrus is in 2007 geregistreer en Adam was die eerste donkie wat in dié donkie-paradys ingetrek het.

Eseltjiesrus bied vandag ’n permanente tuiste vir bejaarde, verwaarloosde en mishandelde donkies net buite McGregor. Hier word hulle die geleentheid gegee om die res van hul lewe gemaklik saam met ander donkies deur te bring. Die donkies word elke dag afsonderlik versorg en gevoed na gelang van hul ouderdom en behoeftes. Elke boek wat tydens die boekfees verkoop word, help met die versorging en rehabilitasie van donkies wat uit haglike toestande gered word en by Eseltjiesrus Donkey Sanctuary gehuisves word.
Daaglikse donkiesorg
Die donkies eet hul ontbyt om 08:00. Terwyl hulle eet, beweeg die versorgers tussen hulle om seker te maak dat hulle goed eet en geen beserings of gesondheidsprobleme het nie. Die personeel kry daarna hul versorgingsborsels gereed vir oggendsorg.
Dit behels groet, borsel en die streel van elke donkie. Die donkies se hoewe word ook skoongemaak en vlieg-afweermiddels word aangewend. Dit is ‘n liefdevolle daaglikse roetine. Die donkies beweeg dan na die ruim plaasgrond om te wei, terwyl die versorgers op hul verdere daaglikse take fokus.

Die laaste maaltyd van die dag is om 16:00, waarna die donkies elkeen weer nagegaan word. Soms is daar besoeke van ‘n veearts, hoefsmid of donkie-tandarts. Die donkies is altyd die span se top-prioriteit.
Eseltjiesrus is ook ’n bron van inligting en hanteer daagliks navrae van oor die land heen oor goeie versorging vir donkies. Die meeste probleme spruit uit onkunde of die wangeloof dat donkies nie gereelde hantering en versorging nodig het nie. Hierdie hulp maak ’n beduidende verskil om die status van donkies in die publiek se oë te verbeter. Elke individuele donkie wat gehelp word, is een minder wat ongemak hoef te verduur.
Die sukses van hierdie jaar se boekefees gaan dus weer ‘n onontbeerlike rol speel in die komende jaar se werksaamhede by Eseltjiesrus.
Besoekers aan die boekefees word ook genooi om ‘n donkie “aan te neem”.
Kom vul jou voorraad lekker leesstof aan vir die winter wat voorlê.
Kontakbesonderhede
Skakel 023 625 1801 of stuur e-pos na bookfair@donkeysanctuary.co.za as jy boeke wil skenk of ‘n geldelike bydrae wil maak wat aangewend sal word vir boeke vir plaaslike skole en biblioteke.
Kontak McGregor-toerisme by 023 625 1954 of Robertson-toerisme by 023 626 4437 vir verblyf-opsies.
Sosiale media: Facebook: Eseltjiesrus Donkey Sanctuary. Instagram: @eseltjiesrusdonkeysanctuary
Besoek www.donkeysanctuary.co.za vir meer inligting.
LEES OOK: ‘Wags and Waves’ beach days to help homeless dogs find love






You must be logged in to post a comment.