Met die stank wat in haar agterplaas hang, is dit glad nie die aangename aftrede wat sy verwag het nie.
Vir ‘n oud-polisievrou (56), wat verlede jaar afgetree het met die hoop om ‘n rustige lewe te geniet, was dit tot dusver ‘n stink gedoente.
Haar desperaatheid vir hulp teen onhigiëniese toestande het lank glo op dowe ore val.
Dié inwoner van St. Jamesstraat in Oakdale, Bellville, het die afgelope twee maande met die Stad Kaapstad gesukkel om ‘n vlei wat reg agter haar erf is, te kom skoonmaak.
Die vlei word na bewering oorgevat deur rondlopers, prostitusie en onwettige storting, wat ‘n ernstige gesondheidsrisiko vir kinders en diere inhou.
Die stank wat van daar af kom, kan tot in haar huis geruik word. Sy kan nie eens haar agterplaas gebruik nie weens hierdie reuk wat in die lug hang. Dit bring ook allerhande insekte soos kakkerlakke na haar woning.
“Die mense kom hier toilet maak, hulle gooi kondome weg, naalde en dwelms – dit is ‘n gesondheidsrisiko vir kinders en ons diere,” vertel sy.
Sy het reeds op 7 November 2023 haar eerste amptelike klagte na die Stad Kaapstad gestuur, maar byna drie maande later sukkel sy steeds om hulle daar te kry.

“Ek het al talle kere probeer om hulp te kry. Ek het die Stad gekontak, e-posse gestuur en steeds kry ek net die rond-en-bont-stories van verskillende departemente wat verantwoordelikheid van een na die ander afskuif,” sê sy.
Die probleem het vererger sedert Oktober verlede jaar toe sy in die gebied ingetrek het op soek na rus en vrede. In plaas daarvan kry sy te doen met prostitusie, dwelmaktiwiteite en misdadige gedrag vanaf die vlei.
Die toestand in die vlei het so erg geword dat sy gedwing is om haar geliefde kat weg te gee uit vrees vir kieme en besmetting. “Daar lê kondome, spuitnaalde en ander vuilgoed rond. Dit het ‘n oop toilet vir hierdie mense geword.”
Sy beskryf hoe prostitute en dwelmverslaafdes die gebied as hul tuisbasis gebruik, met luidrugtige musiek en antisosiale gedrag wat tot diep in die nag voortduur. “Hulle steek vure aan, maak lawaai en gebruik die plek as ‘n openbare toilet. Dit is onhoudbaar.”
Bellville GPF bevestig probleem
Die inwoner se klagtes word nou bevestig deur die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), wat onthul dat die probleme by Vleipark al veel langer duur as wat aanvanklik gedink is.
Charlotte du Toit, ondervoorsitter van Bellville se GPF, sê die forum ontvang al vir meer as ‘n jaar klagtes oor Vleipark van inwoners en die buurtwag.
“Die probleem van die rondlopers en hul aktiwiteite is ‘n daaglikse probleem,” bevestig sy.
Du Toit beskryf die park as vol menslike liggaamsafval, waar seksuele aktiwiteite plaasvind en rondlopers hul besittings sorteer. “Dit skep nie ‘n veilige omgewing vir die inwoners nie.”
Op 20 Desember het een raadslid uiteindelik gereageer, maar dit het niks opgelewer nie. Op 24 Desember het iemand van Solid Waste met my gepraat, maar daar was geen opvolg nie
Volgens die GPF is die stad se reaksietyd ook ‘n groot bron van frustrasie. “Inwoners rapporteer dat hulle vir die skoonmaak daarvan moet vra, wat meer as ‘n week neem om uitgevoer te word,” sê Du Toit.
Sy beklemtoon dat hierdie gebied onder die Stad Kaapstad se jurisdiksie val, wat uiteindelik verantwoordelik is vir die instandhouding en veiligheid daarvan. “Daar blyk geen langtermyn-oplossing te wees nie.”
Reaksie ‘uiters traag’
Die probleem strek egter verder as net Vleipark, volgens die CPF. Du Toit waarsku dat met die toename in “huise met ‘n slegte reputasie” in die gebied, Oakdale-inwoners daagliks in die steek gelaat word.
Ten spyte van herhaalde pogings om hulp te kry, beskryf die inwoner die munisipaliteit se reaksies as “uiters traag en ondoeltreffend”.
“Op 20 Desember het een raadslid uiteindelik gereageer, maar dit het niks opgelewer nie. Op 24 Desember het iemand van Solid Waste met my gepraat, maar daar was geen opvolg nie,” vertel sy.
Die inwoner moes verskeie munisipale amptenare nader, insluitend JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, raadslid Jaqueline Visser en ander. “Almal verwys jou net na iemand anders. Niemand wil verantwoordelikheid aanvaar nie.”
Drie maande later voel die inwoner toenemend desperaat. “Ek het oorspronklik hierheen getrek vir rus en vrede, maar dit het ‘n nagmerrie geword. Die stad se kommunikasie is gebrekkig en beloftes word nie nagekom nie.”
Sy beklemtoon dat die probleem nie net haar eiendom raak nie, maar die hele buurt. “Hierdie vlei raak al die aangrensende strate. Dit is nie net my probleem nie; dit raak die hele gemeenskap se lewensgehalte.”
Ek verstaan dat daar prosedures is, maar wanneer mense se veiligheid en gesondheid in die gedrang is, kan die Stad nie bekostig om so traag te reageer nie,” sê sy.
Terwyl sy voortgaan om druk uit te oefen vir ‘n oplossing, bly Vleipark ‘n bron van frustrasie en ‘n simbool van wat beide sy en die GPF beskryf as die stad se onvermoë om sy burgers te beskerm.
Stad beloof weeklikse instandhouding
Die Stad Kaapstad se departemente omgewingsgesondheid, sowel as ontspanning en parke, het op navrae gereageer. Die omgewingsgesondheidsdepartement erken dat hy op 4 Desember 2025 ‘n klagte ontvang het aangaande onwettige storting, rondlopers, graffiti en prostitusie.
Op 18 Desember het hy ‘n inspeksie uitgevoer en fotografiese bewyse voorsien, wat bevestig het dat die eiendom skoongemaak is.
Dit is nie net my probleem nie – dit raak die hele gemeenskap se lewensgehalte
‘n Bykomende inspeksie op 19 Desember het geen dringende gesondheidsrisiko’s gevind nie.
Die departement ontspanning en parke bevestig dat hy weeklikse instandhouding en vullisverwydering doen. Die Stad beloof gereelde weeklikse instandhouding en skoonmaak soos nodig.
Ondanks die Stad se versekering van weeklikse instandhouding, stem dit nie ooreen met inwoners se ervaring nie.
“Inwoners rapporteer dat skoonmaakversoeke meer as ‘n week neem voor uitvoering,” sê Du Toit.
Met probleme wat al meer as ‘n jaar voortduur, is dit duidelik dat dit ‘n sistematiese mislukking is. Terwyl die Stad beweer dat geen gesondheidsrisiko’s gevind is nie, ervaar inwoners daagliks kondome, naalde en menslike afval.
“Dit is nie net my probleem nie – dit raak die hele gemeenskap se lewensgehalte,” beklemtoon die inwoner.
Die onlangse skoonmaak mag ‘n stap vooruit wees, maar dit kom ná maande van frustrasie en getuig van reaktiewe eerder as proaktiewe bestuur.





