Die Wes-Kaapse polisie sê niemand is nog in verband met die onlangse moord op ‘n man voor die ingang van die Tygerberg-hospitaal aangekeer nie.
Tino “Oudste” Mentoor van Belhar is op Vrydag 15 Augustus koelbloedig in sy motor vermoor in Francie van Zijl-rylaan, Parow. Verskeie skote is op hom geskiet en hy is op die toneel dood verklaar.
Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, sê die saak word nog ondersoek. “Speurders van die teen-bende-eenheid volg nog leidrade op in ‘n poging om die verdagtes op te spoor,” sê hy.
Die polisie het vroeër genoem dat die motief dalk bendeverwant is.
Die oorledene het na bewering die betrokke oggend sy kinders by die skool afgelaai, waarna hy deur onbekende mense aangeval is.
Enigiemand met inligting oor die voorval kan die polisie se Stop Misdaad-nommer, 08600 10111, skakel.





