Noordkaap Bulletin

TWYFELHOEKIE | Omdat sy fokus reg is, bring hy groot verskil mee

Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Die gesprek met die jongman breek my hart. Hy is so jonk, maar reeds so beproef.

Niks in sy lewe werk uit nie. Ek luister na hom. Probeer sin maak uit sy lewe. Maar niks maak sin nie.

Vir hom lyk dit of party mense se lewe so maklik loop. Elke mens het mos maar sy of haar pakkie, maar vir hom lyk dit glad nie so nie. Ek kan dit nogal verstaan.

Jonk begin sy lewe skeefloop. Hy word uitgedaag, ‘n mens staan verstom. Tot hier waar hy oorkant my sit het hy werklik geen kans gehad nie. Alles loop net verkeerd. Om die waarheid te sê, alles is ‘n ramp.

Sy eie ouerhuis is ‘n skande vir die naam van ouers, sy studie word lamgelê deur uitdagings, sy pleegouers sterf toe hy glo hy kry koers. En ek kan nie en mag nie eens begin om die res te vertel nie.

Ek besef ‘n mens kry dikwels met mense te doen wat die wêreld die skuld vir alles wil gee. Natuurlik is daar mense wat self bydra tot hul eie konteks. Daar is mos daardie mense wat die skuld na alles en almal verplaas behalwe na hulleself.

Hy is nie so nie. Dit is nie waar sy binnekant is nie.

Sy binnekant vra hulp om ‘n ander rede. Hy wil hoor hoe hy meer kan beteken vir ander mense terwyl dit so sleg gaan met hom.

Hy het my nie kom sien om sy lewe te help regmaak nie; hy aanvaar amper sy lewenspad sal so skeef bly loop.

Maar hy soek ‘n manier om ander mense te bereik, na ander uit te reik en ‘n verskil in ander se lewe mee te bring.

Hy is so opreg. So eerlik. My antwoord is eenvoudig, hy moet net so aanhou, sy hart is reg. Hy maak reeds ‘n verskil.

Hy fokus nie op homself nie. Hy sien nog die nood om hom.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article