Ek vind dit interessant dat namate ek ouer word, ek al meer huiwerig is en stadiger is om vinnig kritiek te lewer.
Waarskynlik het dit te doen met die feit dat toe ek jonger was ‘n mens graag alles in die gebroke ou wêreld vinnig wou regmaak.
Soos ‘n mens die lewe en mense leer ken en besef hoe mense vanuit verskillende hoeke redeneer en beredeneer, is dit vir my asof begrip meer word en oordeel minder.
Dalk juis daarom wat dit my in besonder opval as iemand onnodig krities is, onnodig kritiek lewer en onnodig seermaak sonder om te dink. ‘n Mens kan dikwels nog ‘n seermaak een keer verstaan of ‘n tweede keer, maar ‘n aanhoudende seermaak van ‘n ander is moeilik om te begryp.
Ouma Mart, aan moederskant, was besonder sag van geaardheid, maar reg is reg en verkeerd is verkeerd. Ek onthou hoe ek as jong seun aan haar voete sit. Letterlik en figuurlik. Sy sit en hekel. Tussen-in gesels ons, maar as sy radioverhale luister moet ek tjoepstil bly.
Voor my is ‘n koekblik vol duisende duisende krale. Alle soorte, alle vorms, alle kleure. Sy gebruik dit vir die rante van die doilies wat sy hekel. Baie middae het ons so gesit.
Vandag koester ek daardie doilies wat sy handgemaak nagelaat het. Ek onthou die krale en die gesprekke aan haar voete. Ek het daardie krale vir haar sorteer. Soort by soort en vorm by vorm. Groottes en kleintjies apart.
En dan, as ek terugdink aan daardie dae onthou ek ouma Mart se wyse raad – Mense is soos doilie-krale. Jy kan hulle nooit dieselfde forseer nie. Hanteer elkeen vir wie hulle is. Dan luister ouma haar radiostorie.
En dan sug sy weer. . . mense is soos doilie-krale. Elkeen ‘n ander een. Ons moet maar stadig wees met kritiek. Met begrip probeer verstaan.
Wanneer dit nodig is, lewer kritiek, maar bou daarmee. Kritiek het ‘n plek, maar tot groei, nie tot vernietiging nie.
- Lees nog rubrieke hier.



