Die tweede Endler-konsertreeks in die konservatorium van die Universiteit Stellenbosch bou voort op ‘n sterk tradisie van musikale uitnemendheid.

Die kollig val op samewerking, plaaslik sowel as internasionaal, en op vokale uitvoerings.

Gehore kan tussen Augustus en Oktober talle konserte te wagte wees.

Schubert se geliefde “Die schöne Müllerin” met die internasionaal erkende Suid-Afrikaanse tenoor Thomas Erlank en bekroonde pianis Tinus Botha is op Vrydag 8 Augustus aan die beurt.

“A Songmaker’s Journey” volg op Woensdag 13 Augustus met die sopraan Marie Vassiliou, professor in sang aan die Royal Academy of Music in Londen, en die pianis Nicolene Gibbons. Die program dek werke uit Duitsland, Frankryk, Italië en Amerika.

Universiteite span saam

Die Stellenbosch-universiteitskoor keer triomfantlik terug ná sy onlangse sukses by die 2024 Wêreldkoorspele in Denemarke, waar hy verskeie goue medaljes gewen het. Onder leiding van André van der Merwe beloof die koor ‘n inspirerende uitvoering op Vrydag 15 Augustus.

Die sterk tradisie van samewerking word op Saterdag 16 Augustus gevier met die jaarlikse US/UK-klavieruitruil, “Invitation to the Dance”, waar die klavierafdelings van die Universiteit Stellenbosch en Universiteit van Kaapstad se South African College of Music dansgeïnspireerde werke aanbied.

Nog ‘n boeiende vennootskap is dié tussen Opera UCT en die Universiteit Stellenbosch-sangafdeling, wat saam die Suid-Afrikaanse kunslied vier, met prof. Jeremy Silver op klavier in die vertoning op Maandag 25 Augustus.

Uitstaande

Ander uitstaande vertonings sluit in die USSO Jeugkonsertfees op Donderdag 4 September met die konservatorium se voorste studentesoliste onder leiding van Rik Ghesquière, buitengewone professor aan die Universiteit Stellenbosch se musiekdepartement en voormalige dirigent van die Brusselse Filharmoniese Jeugorkes.

“Met Apologie: Ter Nagedagtenis aan Roelof Temmingh” op Maandag 8 September vereer dié geliefde Suid-Afrikaanse komponis met ‘n ensemble van uitgesoekte plaaslike musikante, insluitend sy seun Roelof Temmingh Jr. op klavier.

Ander hoogtepunte sluit in die bekende Italiaanse pianis Filippo Gorini se “Sonata for 7 Cities” (19 September), Schola Cantorum se uitvoering van Mozart se “Coronation Mass” (28 September) en “Bridges of Sound: China meets South Africa” met Junnan Sun op klarinet en die pianis José Dias (3 Oktober).

. Kaartjies en programinligting is op Webtickets beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.