Die Stellenbosch- Internasionale Kamermusiekfees (SIKMF) vier vanjaar sy 20ste bestaansjaar.
Dié besondere mylpaal word deur verskeie spesiale aanbiedinge op die feesprogram uitgelig. Een daarvan is die samestelling van ‘n orkes wat slegs uit alumni van die fees bestaan en slegs een keer sal optree.
Vorige feesdeelnemers, wat sedertdien naam in die plaaslike musiekwêreld gemaak het, is gekies om in hierdie spesiale orkes te speel.
Ian Watson, ‘n oudstudent van die Universiteit Stellenbosch (US) en ‘n deelnemer aan die heel eerste kamermusiekfees in 2004, sal die konsertmeester wees.
Peter Martens, die SIKMF se direkteur, sê: “Ons het gepoog om deelnemers van al 19 vorige feeste te nooi. Watson volg intussen ‘n baie suksesvolle loopbaan as orkesspeler in die Verenigde Koninkryk en is terselfdertyd ‘n gesogte kamermusikus. Ek is baie in my skik dat hy vir hierdie geleentheid Suid-Afrika toe kom – nie net om die orkes te lei nie, maar ook om vir die eerste keer by die fees se personeel aan te sluit.”
Talente weer op die verhoog
Die solis by hierdie uitvoering is Leo Gevisser, wat die SIKMF van 2013 tot 2015 en in 2017 as pianis en violis bygewoon het. Hy sal Gershwin se “Klavierkonsert” in F speel, waarskynlik dié vermaarde jazzkomponis se mees klassieke werk.
Gevisser het aan die Julliard School in New York studeer en maak nou daar naam as pianis, komponis en klank-kunstenaar.
Jacobus de Jager het die Suid-Afrikaanse kompetisie vir dirigente in 2023 gewen en was daarna ‘n semifinalis in die Herbert von Karajan-kompetisie vir jong dirigente in Salzburg.
Hy het verskeie plaaslike orkeste gedirigeer voordat hy vir verdere studies na die buiteland vertrek het, waar hy reeds die Royal Scottish National Orchestra, die BBC Scottish Symphony Orchestra, die Filharmoniese Orkes van Athene en die Mozarteumorchester in Salzburg dirigeer het.
De Jager, wat die SIKMF tussen 2016 en 2019 eers as pianis en later as dirigent bygewoon het, sal die Alumni-orkes vir hierdie eenmalige optrede dirigeer.
Die uitvoering vind plaas op Donderdag 3 Julie om 20:00 – een dag vóór die amptelike begin van die fees.
Naas Gershwin se “Klavierkonsert” sluit die program ‘n nuwe werk deur Matthijs van Dijk in, sowel as Mahler se vyfde simfonie – ‘n grootse werk met ‘n sterk romantiese inslag.
Toegangskaartjies is by Webtickets te koop. Besoekers word aangeraai om vroeg te bespreek. Die alumni-konsert by die Endler is nie by die fees se seisoenkaartjie ingesluit nie.