HERMANUS – Twee verdrinkings is weer die afgelope week in die Overstrand aangemeld.
Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het ’n 26-jarige Zimbabwiese man by die Botrivier-strandmeer naby Fisherhaven vermis geraak. “Die NSRI-Hermanus is om 20:13 van ’n moontlike verdrinking by die strandmeer in kennis gestel. Die man het na bewering deur die strandmeer gestap toe hy verdwyn het,” het die NSRI gesê.
NSRI-beamptes, ’n NSRI-reddingsvoertuig en die polisie is na die toneel ontbied, maar geen teken van die man is gevind nie. Polisieduikers is ook van die voorval in kennis gestel en die NSRI tesame met die polisie het die soektog Sondag (15 Februarie) voortgesit.
Ten spyte van ’n deeglike soektog is nog geen teken van die vermiste man gevind nie. Die polisie het ’n saak geopen en bevestig hulle sal met die soektog voortgaan.
Volgens gerugte het die vermiste man gereeld saam met sy vriend in die strandmeer gehengel en was hy vertroud met die omgewing. “Ons dink aan die familie en vriende van die vermiste,” het die NSRI in ’n mediaverklaring gesê.
Nog ’n man het in ’n voorval Maandag 16 Februarie by die Gansbaai-hawe verdrink. Gerugte doen die ronde dat die oorledene by die hawe leer duik het toe hy glo in die toue onder die water verstrengel geraak het.
Dit is nie die eerste voorval wat by Gansbaai-hawe gebeur het nie. Verlede jaar het ’n 30-jarige man op 23 Februarie ook by die hawe verdrink nadat hy saam met familie en vriende gaan swem het. En ’n paar weke voor dit het nog ’n man verdrink nadat hy van sy vissersboot afgeval het.
- In geval van nood ter see kan omstanders die NSRI se nasionale noodnommer, 112 of 087 094 9774, skakel, of die NSRI Hermanus kan by 082 990 5967, die NSRI Kleinmond by 083 419 4557 en die NSRI Agulhas by 082 990 5952 gekontak word.





