Barney
Van die beskuldigdes met ʼn vorige hofverskyning. FOTO: Charné Kemp

KIMBERLEY – Die Hooggeregshof in Kimberley het onlangs borgtogappèl-uitsprake in die aansoeke van drie vermeende meelopers van George Peters, bekend as Barney, gelewer. Peters is die vermeende bendeleier van die Hollanders-bende waarin 16 aangeklaagdes tereg staan op 117 aanklagte wat met bende-bedrywighede verband hou.

Waarnemende regter T. Tyuthuza het in uitsprake op 21 en 28 November borgtog aan twee appellante toegestaan terwyl ‘n derde in aanhouding moet bly.

In drie van die beskuldigdes se hernude poging om op borgtog vrygelaat te word, het regter Tyuthuza bevind die laer howe wat borgtog aanvanklik geweier het, het in die geval van Malambi en Micheal Peters regsfoute gemaak, en sy het borgtog van R5 000 elk aan hulle toegestaan.

Arends se borgtogaansoek op nuwe feite en aansoek om appèl teen die weiering van haar eerste borgtogaansoek is verwerp.

Streekshof versuim om getuienis behoorlik te ontleed

Die regter het in twee gevalle bevind die Kimberley streekshof het versuim om die getuienis behoorlik te ontleed. Die laer hof se bevindings oor risiko’s is nie met duidelike feite gestaaf nie.

Malambi se suksesvolle appèlaansoek was gegrond op verskeie faktore: hy het geen vorige vonnisse nie, hy het stabiele en verifieerbare gesinsverbintenisse en het by sy ouers in Kimberley gewoon. Hy is in aanhouding sedert Januarie 2022.

Die voorwaardes vir Peters en Malabi is dat hulle nie hul onderskeie distrik in Kimberley en Mothibistad, Kuruman, mag verlaat sonder skriftelike toestemming van die ondersoekbeampte nie.  Malambi moet weekliks by die Roodepan polisiekantoor, en Peters by die Mothibistad polisiekantoor aanmeld. Hulle mag geen kontak met staatsgetuies hê nie.

‘Geloofwaardigheid bedenklik’

In Arends se mislukte aansoek is bevind dat haar geloofwaardigheid bedenklik is. Arends word van uiters ernstige Skedule 6-oortredings soos moord en afpersing beskuldig. Dié skedule vereis dat sy  uitsonderlike omstandighede moet bewys om vrylating te regverdig.

Regter Tyuthuza het bevind sy het versuim om voldoende getuienis te lewer. Arends het “valse getuienis” aangebied. In haar aanvanklike borgaansoek het sy onder eed verklaar dat sy saam met verskeie mede-beskuldigdes woon. In haar daaropvolgende aansoek om borgtog op nuwe feite het sy verklaar sy het voor haar inhegtenisneming na haar siek moeder omgesien.

LEES OOK: Barney-verhoor wat na verwagting jare kan duur kom nie op dreef

Arends het glo gebieg oor ‘n moord wat gepleeg is, maar regter Tyuthuza het bevind dat selfs al was die belydenis vals, soos sy nou beweer, dit alles op regsverydeling mag dui. Voorts is haar woonadresse met haar inhegtenisname aangedui as dié van haar medebeskuldigdes, en is haar ma se adres as ‘n alternatiewe een aangedui. Sy is dus nader aan haar medebeskuldigdes as haar eie familie. In haar eerste aansoek, anders as met die tweede aansoek, het sy nie gesê dat sy voor haar inhegtenisname by haar sieklike ma gewoon het wat na twee kinders moes omsien nie, of dat sy van haar pa afhanklik is nie.

Verhoor kan jare duur

Peters en sy medebeskuldigdes word gesamentlik of afsonderlik verdink dat hulle by etlike bendeverwante voorvalle vanaf Augustus 2020 tot Februarie 2023 in Kimberley en Kuruman betrokke was. Hulle het glo geld uit dwelmhandel gemaak. Die vroue  is glo as dwelmmuile gebruik. Die 117 aanklagte sluit onder meer moord, poging tot moord, bedrog, ontvoering, verkragting, en geldwassery in.

Sy mede-aangeklaagdes is Britney Arends, Stephanie Mcanda, Simone Rose, Chinaaz Mentoor, Abagail van Wyk, Chane Adams, Micheal Peters, Clive Peters, Deon May, Parmeston Mentoor, Henry Blom, Vincent Rosen, Tshepo Malambi, Nico Hofuza en Shawn Smith. Van hulle is Peters se broers, eertydse en huidige houvroue en vermeende makkers.

Die verhoor, wat die afgelope jaar begin het, sal na verwagting nog jare duur. Die beskuldigdes word van altesaam 117 aanklagte van onder meer moord, poging tot moord, bedrog, ontvoering en verkragting aangekla. 

LEES OOK: Stil dorpie buite Malmesbury nou oorlogsone weens bendegeweld

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article