Die trompoppies van die Laerskool Rainbow is besig om groot naam te maak.
Die trompoppies van die Laerskool Rainbow is besig om groot naam te maak.

Die skoolgemeenskap van die Laerskool Rainbow in Delft (buite Kaapstad) is breëbors nadat hul trompoppies weer eens gewys het van watter stofasie hulle gemaak is toe nie minder nie as sewe lede van die groep hul WP-kleure verwerf het.

Volgens Rograe Hendricks, ‘n woordvoerder vir die skool, bestaan die groep slegs drie jaar, maar het in dié kort tydjie gewys dat met hulle rekening gehou moet word. “Verlede jaar was ons tweede in die uitdaagbeker in die President-liga, waarna ons na die Elite-liga bevorder is. Vroeër vanjaar het ons in Oudtshoorn aan die nasionale kampioenskapskompetisie deelgeneem en onder die afrigter Henry Soetzenber 13de geëindig,” sê Hendricks.

Struikelblokke

Ten spyte van verskeie struikelblokke hou die groep aan om hul beste te doen. “Ons grootste struikelblok is maar geld. Nie al die leerders se ouers kan betaal nie, want dit is nogal ‘n duur sport. Ons probeer maar soveel as moontlik insamelingsgeleenthede hou sodat ons die leerders in sport kan hou,” sê sy.

Hendricks sê hulle is veral trots daarop dat hulle voortgebou het op verlede jaar se sukses deurdat sewe lede vanjaar WP-kleure verwerf het. “Een van ons lede het selfs nasionale kleure verwerf. Ons geliefde afrigter (Henry Soetzenburg) is vanjaar ook met WP-kleure beloon,” spog sy.

You need to be Logged In to leave a comment.