Jong kunstenaars staan ‘n kans om hul tekening in ‘n splinternuwe Liewe Heksie-boek te sien.
Sedert Verna Vels se eerste Liewe Heksie-storie in 1961 op radio uitgesaai is en die boeke kort daarna in 1965 gepubliseer is, beklee hierdie onskuldige, onhekserige heksie ’n stewige plek in die harte van Suid-Afrikaanse kinders.
Bekoring
Vandag is Liewe Heksie steeds die bekendste kinderboekkarakter in Afrikaans en Vels se stories vermaak duisende bewonderaars al vir 65 jaar. Heksie se bekoring lê waarskynlik daar in dat kinders (én grootmense) hulle so maklik met haar kan vereenselwig.
Wanneer sy ’n woord nie ken nie, wanneer sy iets belangriks vergeet, wanneer sy haar punthoed skaam oor haar oë trek, of teen wil en dank tóg iets moeiliks regkry, deel die kind in ons in Heksie se vreugde of mislukking.

Nou kry jong kunstenaars die geleentheid om self deel van hierdie besonderse nalatenskap te word.
Ter viering van Liewe Heksie se 65ste bestaansjaar én die publikasie van ’n splinternuwe boek, Liewe Heksie en die Rotbende, later vanjaar nooi Jonathan Ball-uitgewers kinders uit om hul eie illustrasies van Liewe Heksie en haar beste maat, Matewis die kat, te teken.
Die weninskrywings sal as kunswerke in die nuwe boek wat in Oktober vanjaar verskyn, gepubliseer word.
‘n Nuwe avontuur
Liewe Heksie en die Rotbende is die eerste nuwe Liewe Heksie-boek in dekades en is gegrond op die dramaproduksie wat Vels vir die Universiteit van Pretoria geskryf het. In hierdie opwindende avontuur bedink die nare Geelheks van Gifappeltjieland en ’n bende skelm, honger rotte ’n plan om die kosbare Silwer Roos te steel.
Maar daar is ook ’n vlieënde piering wat moles maak en ’n ‘hond-skoen’ wat vir Kerrie en Borrie wil byt. Boonop ontaard koning Rosekrans se spesiale verjaardagviering in chaos. Liewe Heksie en haar vriende word uiteindelik meegesleur in ’n dolle jaagtog om Blommeland te red.
Met splinternuwe illustrasies en ‘n storie wat die geliefde wêreld van Blommeland opnuut laat leef, wil die boek Vels se kreatiewe nalatenskap vier en nuwe jong lesers lok.
Die tekenkompetisie
Die organiseerders is op soek na kleurvolle, kreatiewe en verbeeldingryke tekeninge van Liewe Heksie en Matewis. Vier gelukkige wenners se kunswerke sal in Liewe Heksie en die Rotbende gepubliseer word.
Soos Verna Vels kinders oor dekades aangemoedig het om hul verbeelding te gebruik, word ‘n nuwe generasie genooi om hul eie tekeninge van Blommeland te skep.
Hoe om in te skryf
Die kompetisie is oop vir kinders tussen vyf en 12 jaar.
Kinders moet ‘n oorspronklike, handgetekende prent van Liewe Heksie en Matewis op ‘n wit A4-bladsy maak. Enige teken- of inkleurmedium (potlood, kleurpotlode, kryte, verf of viltpenne) mag gebruik word. Daar moet geen woorde of skryfwerk op die tekening wees nie.
‘n Ouer of voog moet saam met die inskrywing die volgende besonderhede in ‘n e-pos verskaf: Die kind se naam en ouderdom, ouer/voog se naam, kontaknommer, e-posadres en woonplek.
Skandeer die tekening en heg dit as ‘n PDF-dokument aan die e-pos en stuur dit aan marketing@jonathanball.co.za.
Die sluitingsdatum is Maandag 10 Augustus.
LEES OOK: Ma van Durbanville publiseer eerste kinderboek om kinders van ‘gevolge’ te leer





You must be logged in to post a comment.