’n Bekroonde fotograaf van Yzerfontein is verlede week as die wenner van ’n gesogte internasionale fotokompetisie aangekondig.
Geo Cloete (53) se passie vir die natuur en veral vir die seelewe straal behoorlik uit sy mees onlangse fotokunswerk vol kleurvolle sand-anemone.
Cloete se inskrywing is as die wenner van die Landscape, Waterscape & Flora-afdeling in vanjaar se internasionale BigPicture- natuurlike wêreld-fotokompetisie aangewys.
Cloete het die foto met ’n sogenaamde visooglens geneem. Hy was huiwerig om die ligging waar die foto geneem was, bekend te maak weens die ekologies sensitiewe aard van die omgewing.
Cloete, die wenner van talle internasionale fotokompetisies, waaronder natuurlewe-fotograaf van die jaar, sê die visooglens gee ’n baie wyehoeksigveld – net minder as 180°. “Wat dit dan moontlik maak, is om baie naby aan goed te kom, maar – in dieselfde asem – as iets nie baie naby aan die kamera is nie, lyk dit baie kleiner as wat dit eintlik is. Dit het dus ongelukkig ’n bietjie teen my getel in die sin dat die branders groter is as wat dit op die foto lyk,” brei hy uit.
Volgens hom is daar altyd voor- en nadele, maar in sy geval kon hy die sonsondergang op daardie spesifieke tydstip deel van die foto maak, wat in sy guns getel het. “Miskien wou ek deurgegee het hoe groot die branders is, want dit is een van die dinge wat vir my ongelooflik merkwaardig is van anemone. As jy kyk waar hulle woon en hoe hulle in daardie omstandighede moet oorleef, is dit net absoluut merkwaardig,” voeg hy passievol by.
Cloete meen hy het die foto geneem omdat dit volgens hom verteenwoordigend van die lewensiklus is. “Maar dit gebeur op ’n 12-uurlikse basis soos die getye tussen hoog- en laagwater wissel. As hulle in daardie tussengety-sone woon, is hulle afhanklik van die getywisselinge en die branderaksie om vir hulle kos te verskaf. En dit is die deel wat ek in die foto wou vasvang.”




