’n Program wat gesamentlik deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) en die Universiteit Stellenbosch aangebied word, genaamd die Telematiese Skoleprojek (TSP), brei aanlyn leerondersteuning uit vir leerders in grade 10 tot 12 in skole van die Departement Basiese Onderwys.

Die inhoud word in Engels en Afrikaans aangebied. Dit is gratis om hiervoor te registreer en benodig verder geen data nie.

Al wat leerders hoef te doen om toegang te verkry tot die kursuswerk in 18 vakke – van tale (English, Afrikaans en isiXhosa) tot wiskunde, fisiese wetenskappe, rekeningkunde, geskiedenis, geografie en meer – is om op die nul-gegradeerde Telematiese Skoleprojek se webblad te registreer. Al wat nodig is, is ’n persoonlike e-posadres.

Nadat hulle geregistreer het, kry leerders onmiddellik toegang tot regstreeks uitgesaaide aanlyn onderrig of, as dit geriefliker is, tot opnames van die lesse, waardeur hulle op hul eie tyd en teen hul eie tempo kan werk. Hulle kan so gereeld as wat hulle wil, terugkeer na die lesse totdat hulle voel hulle is voldoende vertroud met die werk.

Hulle kry ook toegang tot al die video’s van lesse, werkboeke, hersieningsprogramme en opsommings van kursusinhoud, insluitend ander materiaal soos infografika, asook oefenvraestelle om hulle te help om al die onderrig- en leertyd wat sedert 2020 verloor is, in te haal.

Gehalteversekering van die inhoud word deur senior kurrikulumbeplanners van die WKOD gedoen. Die stelsel is oop aan alle leerders in grade 10 tot 12 oor die hele land heen.

Aanlyn toegang kan ook via Facebook verkry word, maar gebruikers het dan hul eie data nodig.

Baie hoërskole in die land het reeds by die projek aangesluit, maar in hierdie geval kyk die hele klas tegelykertyd na die inhoud, verduidelik Zainab Suliman van die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Leertegnologieë. Suliman is die adjunk-direkteur van die sentrum se werksaamhede, telematiese dienste en projekte en bestuur die TSP.

Dr. Glynis Schreuder, hoof- opvoedkundige spesialis: Kurrikulum VOO (Verdere Onderwys en Opleiding) en projekbestuurder van die TSP by die WKOD, verduidelik: “Ons is opgewonde oor die aantal skole wat van die fasiliteit gebruik maak en ontvang positiewe terugvoer oor hoeveel dit die leerders help om die kurrikulum te bemeester en ook om moontlike kurrikulumverliese/agterstande as gevolg van die roterende tydrooster tydens die pandemie in te haal. Hulle kan na inhoud in die klaskamer, wat regstreeks uitgesaai word, kyk en interaktief deelneem, of hulle kan in toepaslike tye in die skoolprogram na opnames kyk.

“Ons moedig alle leerders in grade 10 tot 12 aan om individueel te registreer om verder voordeel te trek. Selfs al neem hulle op skool deel, kan hulle ook op hul eie tyd na die werk terugkeer en so gereeld nodig deur die uitsendings wat opgeneem is, werk.”

Sy voeg by dat buiten die lesse oor spesifieke onderwerpe wat uitgesaai word, word kwartaallikse hersieningsprogramme ook verskaf.

“Die hersieningsprogram som elke kwartaal se werk op om leerders te help om verder met die sillabus vertroud te word. Ons begryp die lewensdruk waaronder leerders verkeer. Ons wil hê hulle moet met die gebruik van hierdie verkorte inhoud so doeltreffend moontlik in hul daaglikse realiteite kan integreer.”

Die TSP verskaf ook toegang tot lewensvaardighede-werksessies en video’s, asook inligting oor aanbiedingsvaardighede, werkgereedheid, voorbereiding vir werkonderhoude, hoe om ’n CV te skryf en selfs hoe om persoonlike geestesgesondheid te verbeter.

Besoek die webblad by https://schools.sun.ac.za/ of op die Facebook-blad “telematicschoolsproject”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article