Malmesbury-netbalklub is onlangs as die wenners van die Weskus Twizza-kompetisie aangewys.
Die kompetisie is suksesvol deur die wedstrydsekretaris van Weskus Netbal, Inge Theron, vir die federasie gereël. Hoewel die wedstryde telkens weens slegte weersomstandighede en beurtkrag uitgestel moes word, kon dit uiteindelik Maandagaand 18 Julie hervat met die halfeindronde en Dinsdagaand 19 Julie met die eindronde op Moorreesburg. Die vier Weskusspanne, Malmesbury, Langebaan, Moorreesburg en Citrusdal het dit geniet om weer terug te wees op die baan en het met uitstekende netbal vorendag gekom. Sydney Crow van Moorreesburg Tiere-netbalklub is aangewys as die speler van die toernooi en Beulen Lazerus van Langebaan-netbalklub as die beste binnebaanspeler. Malmesbury-netbalklub het weggestap met die louere, met Langebaan in tweede plek, Moorreesburg in derde plek en Citrusdal in vierde plek.
Malmesbury en Langebaan het ook die pas afgelope Saterdag aan die Wes-Kaap Twizza-kompetisie deelgeneem in die Paarl. Weskusfederasie se spanne het hulle baie goed van hul taak gekwyt en gewys dat die klubs in die Weskusfederasie vir geen span in die Wes-Kaap hoef terug te staan nie.
Die span van Marchelle Maroun (Langebaan-netbalklub) het tweede en die span van Nadene Scrheman (Malmesbury-netbalklub) het vierde geëindig. Lazarus is aangewys as beste opkomende senterbaanspeler en Ansuné Smit van Malmesbury-netbalklub as beste opkomende verdediger.





