Wesbank-rugbyklub het na die naweek se weghol-oorwinning van 95-7 oor Koringberg as die Swartland-kampioen van die Grootuitdaagbeker weggestap.
Hulle dring nou deur na die top12-kompetisie en sal teen ander streke meeding in die hoop om die Boland-Grootuitdaagbeker te wen.
Divan Green van die Wesbank-rugbyklub sê dit is vir hom as voorsitter ’n besonderse eer dat die klub as die streekswenner kan wegstap. “Nie net het ons eerste span sy afdeling gewen nie, maar ook ons tweede span. Malmesbury is geseën met baie talent. Hiermee gaan my dank uit aan die spelers, afrigters en bestuur. 2022 het met baie uitdagings buite ons beheer begin, maar ons het steeds bo uitgekom. Veral omdat hul so ’n jong groep spelers is, kan ek net meer trots wees op hulle.”
Green sê egter harde werk en voorbereiding lê nou voor met die aanloop tot die komende top-12-kompetisie.
“Ek wil ook net spesiale dank gee aan al ons lojale toeskouers wat altyd bankvas agter die klub staan.
“Laastens wil ek Never Despair sterkte toewens met sy aanslag saam met Wesbank in die top-12-kompetisie.
“Kom ons maak Malmesbury trots!”





