Die Cape Leopard Trust, in samewerking met kenners van die Herding Academy en CapeNature, gaan binnekort ’n reeks werksessies aanbied, wat holistiese grondbestuur en volhoubare boerdery in harmonie met roofdiere verken. Die drie voldag-werksessies is daarop gerig om roofdier-konflikverligting asook boerdery-bestuursmetodes en -praktyke (wat die natuur beskerm), boere bevoordeel en voedselsekerheid verhoog, oor te dra en aan te moedig.
Waarom is hierdie ’n werksessies nodig?
Die luiperd is die laaste groot roofdier en laaste lid van die Groot 5 wat nog vrylewend in die Wes-Kaap voorkom. Hoewel luiperds dit verkies om natuurlike prooi te vreet, kan hulle soms opportunisties jag maak op lewende hawe en so beduidende ekonomiese skade aanrig. Om saam met roofdiere asook droogtes en uiterste weerstoestande te boer, is van die vele uitdagings wat boere moet trotseer.
Die natuurwerksessiereeks moedig kommersiële boere wat “in harmonie met die natuur” wil boer, aan dat dit nie net moontlik is nie, maar inderdaad voordelig is om produktiwiteit en volhoubaarheid te verhoog.
Die holistiese bestuursmetodes wat in hierdie werksessies aangebied word, sal nie net individuele boere baat nie, maar ook die Wes-Kaap se fauna en flora, wat van internasionale belang is. As die hoofroofdier (apex predator) van een van die wêreld se mees biodiverse streke, is die luiperd ’n belangrike beheermeganisme vir die gesondheid van die hele ekostelsel.
Hierdie reeks natuur-werksessies hoop om mens-roofdier-konflik te verminder en só luiperds en ekostelsels te bewaar.
Daarby – deur te boer vir biodiversiteit en die plaas as deel van die hele ekologiese stelsel in ag te neem – kan die impak van droogtes verminder en die langtermynvolhoubaarheid van die boerderystelsel verhoog word.
Die detail
Al drie sessies sal tussen Augustus en Oktober 2022 aangebied word by twee plekke in die Wes Kaap – Montagu- Country Hotel en Langgewens-navorsingsplaas tussen Malmesbury en Moorreesburg.
Deelnemers word aangemoedig om die hele werksessie-reeks by te woon om die leermateriaal optimaal te benut, maar dis ook moontlik om individuele dae by te woon.
Deelname kan bespreek word by die Cape Leopard Trust se aanlyn winkel by www.capeleopard.org.za/shop/events teen R200 per voldag-werksessie (of R550 vir al drie dae).
Die werksessies begin telkens om 09:00 en eindig 16:00. Middagete is ingesluit.
Werksessie 1: Holistiese droogtebestuur
Hierdie sessie word aangebied in samewerking met die Herding Academy, en sal kyk na metodes om produktiwiteit in droogtes te verhoog, insluitend die gebruik van weidingsplanne.. 2 Augustus, Montagu Country Hotel. 4 Augustus, Langgewens-navorsingsplaas
Werksessie 2: Holistiese roofdierbestuur
Hierdie sessie word aangebied in samewerking met CapeNature, en besprekingspunte sal insluit roofdiergedragsekologie, konflik-mitigering en karkas-identifikasie.. 7 September, Montagu Country Hotel. 21 September, Langgewens-navorsingsplaas
Werksessie 3: Toegepaste holistiese agri-ekologiese bestuur
Hierdie sessie fokus op agri-ekologiese beginsels en bystand vir boere om hierdie beginsels prakties in hul individuele boerderye toe te pas. . 5 Oktober, Langgewens-navorsingsplaas. 19 Oktober, Montagu Country Hotel
Kontak Chavoux Luyt met enige werksessie-verwante navrae per e-pos by communityoutreach @capeleopard.org.za of 082 791 1384 (WhatsApp).

