Beste presterende plaas: Die plaas Wynkeldershoek buite Malmesbury was die derde agtereenvolgende keer sedert 2019 as die bespresterende plaas aangewys. Van links staan die plaasbestuurder, Ruan van der Mescht (heel links), saam met die wenners van die plaas. Van links langs Van der Mescht is Elsabee Farao, verlede jaar se algehele wenner en vanjaar se seremoniemeester, Aphendule Dyomfoma, Marlon Coert (vanjaar se algehele wenner), Shawn Pieters, Dawid du Toit, Nigel Jonkers en Johannes van Schalkwyk. Van der Mescht het die trofee as wenner van die afdeling ontvang. Foto’s: Charlotte Lesch


Marlon Coert van die plaas Wynkeldershoek is vanjaar se algehele wenner van die Swartland- prestige-werker-van-die-jaar-kompetisie.

Volgens Coert het sy harde werk hom vanjaar die geleentheid gegee om die wenbeker van die streekskompetisie op te raap. Dié been van die kompetisie, wat sy oorsprong 21 jaar gelede in die Hexvallei gekry het en in altesaam 16 streke in die Wes-Kaap gehou word, is Woensdag by die Groenrivier-lokaal in Riebeek-Wes gehou.

Die Swartland-streek se kompetisie word jaarliks deur die Swartland-wyn-en-olyfroete aangebied, in samewerking met die Wes-Kaapse departement van landbou en Shoprite as medeborge van die geleentheid.

Coert, wat al sowat vyf jaar by Wynkeldershoek werk, het met nederigheid vertel hoe hy in 2016 as die beste student in wingerdbou en vrugteverbouing aangewys is toe hy landboukunde by Elsenburg studeer het. Volgens hom het hy nie baie ervaring in die sitrusbedryf gehad voordat hy op Wynkeldershoek as algemene werker begin het nie. Hy skryf die beloning toe aan harde werk, maar is ook dankbaar teenoor sy mentor en plaasbestuurder, Ruan van der Mescht, wat hom alles oor die bedryf leer.

Vanjaar se afdelings waarvoor werkers kon inskryf, was algemene werker, trekkerdrywer, besproeiingspesialis, tegniese operateur, diereproduksie, gemeenskaplike ontwikkeling, administratiewe personeel, voorman, junior bestuur, middelbestuur, landbouverwerking en beste presterende plaas, sowel as beste potensiaal waaruit die Swartland-landbouwerker van die jaar uiteindelik aangewys is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article