Pulpit Rock in Riebeek-Wes se jong wyne het beoordelaars tydens vanjaar se streekskou behoorlik beïndruk. Die hoofwynmaker Dewald Huisamen staan trots saam met sy kelderspan Curtley Markus, Zavier Asja, Christo Cloete, Klaas Mentoor en Ashwell Swarts by die trofeë wat hulle huis toe geneem het. Foto: Verskaf


Pulpit Rock se jongwyne het vanjaar die kollig as algehele streekswenner gesteel nadat een van die wynkelder se inskrywings as wenner van die gesogte Absa- Groot Kampioen met hul Cinsaut (klas 58:2) aangewys is.

Dewald Huisamen, die voorsitter van Swartland Jongwynskou en ’n bekroonde wynmaker van Pulpit Rock-wynkelder in Riebeek-Wes, het nie net vanjaar die Absa-trofee huis toe geneem nie, maar ook die klem laat val op die voortbestaan van die oudste wynskou ter wêreld.

Die jaarlikse Swartland Jongwynskou, aangebied deur Swartland Wynskouvereniging, het onlangs by die gewilde Blake’s Family Wines in Yzerfontein plaasgevind.

Volgens Huisamen is die voortbestaan van die jongwynskou noodsaaklik. Hy meen die verantwoordelikheid om die skou vir geslagte ná hulle te verseker, lê by vandag se wynmakers.

“Dit lê by ons geslag wynmakers om die skou te laat voortleef,” verduidelik hy.

Volgens hom lyk dit asof sekere streke baie bemarkingswaarde uit die jongwynskoue geniet, terwyl ander streke nie.

“Dit moet vir ons belangrik wees. Dit is die oudste wynskou – nie net in die land nie, maar ook ter wêreld. Dit is daarom ons verantwoordelik­heid om toe te sien dat die wynskou voortbestaan.”

Volgens hom moet hulle ook ’n gesonde voortbestaan verseker sodat die jong geslag en die kelders aanhou inskryf.

Vanjaar het 137 meer inskrywings op nasionale vlak gehad met die byvoeging van nog vier nuwe wynkelders wat aan boord gekom het.

Buiten Pulpit Rock se Cinsaut het die kelder ook die trofee vir die beste vyf inskrywings, naamlik die Vinochem trofee, gewen. Die ander trofeë wat die kelder opgeraap het, was die Santam Landbou-trofee – Kampioen Ander Rooi Kultivar met hul Petit Verdot; die Kotzé/Steyn-trofee – Kampioen Shiraz; die Porex SA-trofee – Kampioen Merlot vir hul Merlot gehout en die Séan Nieuwoudt-trofee – Kampioen Cinsaut.

Die CJP Chemicals-trofee Kampioen Chenin Blanc het aan Darling Cellars se span met hul Chenin Blanc gehout gegaan. Dié kelder het ook die Vinventions-trofee – Kampioen Sauvignon Blanc huis toe geneem.

Die groot Malmesbury Toyota-trofee – Kampioen Droë Wit Versnit met hul Sauvignon Blanc/Sémillon (gehout) is aan Darling Cellars toegeken, asook die WPK/Kaap Agri-trofee – Kampioen Natuurlike Soetwyn genaamd Bukettraube.

Daarmee saam vat die kelder die Kobus Basson- trofee – Kampioen Pinotage, en die Nexus-trofee – Kampioen Droë Rooi Versnit saam terug na Darling.

Die Riebeek Valley Wine Co het op hul beurt die Enartis-trofee – Kampioen Ander Wit Kultivar vir hul Chardonnay (gehout) ontvang, terwyl die span van AA Badenhorst Family Wines die Wine Machinery-trofee – Kampioen Cabernet Sauvignon vir hul Cabernet Sauvignon (gehout), asook die SAIL-trofee – Kampioen Versterkte Wyn met hul Cape Ruby gewen het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article