Augustusmaand is ’n huldeblyk aan vroue en ons kry daarom ’n spesiale geleentheid om hulle behoorlik te vier. Hulle is werklik merkwaardig – hulle pak verskeie verantwoordelikhede aan, insluitend die bestuur van hul geldsake, aldus Carla Oberholzer, woordvoerder en skuldadviseur by DebtSafe.

“En, wanneer dit by hul finansiële omstandighede kom, het hulle inderdaad die ondersteuning en aanmoediging van hul gemeenskap en geliefdes nodig om voort te gaan om behoorlik na hulle finansies om te sien,” voeg sy by.

DebtSafe het onlangs hul Suid-Afrikaanse Verbruikers se Finansiële Realiteit-vraelys- en opname-resultate vrygestel. Die volgende top-vroueverwante terugvoer en hoogtepunte werp lig op verskeie finansiële uitdagings waarmee vroue gereeld gekonfronteer word:

• Die meerderheid (58%) van die 1 447 algehele respondent- en opnamegroep is vroue.

• Die primêre vroue-deelnemersgroep se ouderdom is tussen 25-34 (45%) en 18-24 (30%).

• 76% van die vroulike respondente is enkellopend en 17% is getroud (vernaamste huwelikstatus aanduidings).

• Sowat 64% van vroue is werkloos.

• 65% van vroue (opname/vraelys) deelnemers sorg vir afhanklikes (meestal babas, kleuters en tieners).

• Vroue se tipiese uitgawes sluit lewenskostes (kos en brandstof) – 73%, data/internetdienste– 46%, televisie-subskripsies (33%) en studiekostes – 31% in.

• Sewehonderd sewe-en-sewentig (777) vroue bevestig hulle sukkel om te spaar: 48% stem heeltemal saam, en 31% stem saam.

• Die grootste rede waarom vroue nie kan spaar nie is as gevolg van hoë lewenskostes (die prys van kruideniersware en duur brandstofuitgawes).

• Die belangrikste skuldverpligtinge wat vroue het, is winkel- / klerekrediet; persoonlike / studente / konsolidasie lenings en kredietkaarte / oortrokke fasiliteite.

• 58% vroue (wat aangedui het dat hulle skuld het) is agterstallig met hul rekeninge.

• 56% is agterstallig met winkel- /klererekeninge / skuld.

• Die hoofrede waarom hulle agterstallig is met hul rekeninge is as gevolg van die “moeilike ekonomiese tye” wat hulle in die gesig staar.

• Die finansiële stres wat vroue tans ervaar, verhoog / beïnvloed hul stresvlakke (58%), slaappatrone (32%) en hul algehele gesondheid (26%).

Die bogenoemde statistiek beeld nie net ’n realistiese prentjie van Suid-Afrikaanse vroue se geldsake uit nie, maar dit kan ook vroue en hul nabye kringe inspireer om te verseker dat hulle voortgaan om na belangrike finansiële aspekte en verantwoordelikhede om te kan sien in die toekoms.

Oberholzer beveel die volgende vyf praktiese wenke aan vir oorweging:

1. Inkomste /welvaart-wenke

Suid-Afrikaanse vroue is kreatief en om hul entrepreneuriese talente te toets kan verseker wondere verrig, mits vroue nou hul inkomste wil verhoog óf ’n inkomste wil begin verdien. Die sleutel is om ’n tree vooruit te gee en te gebruik wat hulle reeds tot hul beskikking het:

• Indien hulle toegang tot ’n rekenaar het, hoekom nie grafiese ontwerpdienste aanbied, of opleiding en klasgee of skryftake en redigering as vryskut-opsies oorweeg nie?

• Wanneer hulle ’n ekstra kamer op hul eiendom /perseel beskikbaar het, hoekom verhuur hulle dit nie uit as studenteverblyf nie?

• En wat van ’n deeltydse of voltydse betrokkenheid as fiksheidsinstrukteur? Idees en opsies is eindeloos.

2. Vermy / moenie probeer byhou met die “Joneses” nie

Vroue moet daarop fokus om hul eie mini-ekonomie aan die gang te hou in plaas daarvan om “finansieel te probeer tred hou” met familielede, bure of bekendes. Geen aantal skoene, handelsmerkbaadjies en juweliersware kan ooit vergelyk word met die tevredenheid en trotswees-gevoel op hul geldprestasies (afbetaling van studiegelde, sorg vir kinders en om te hou by ’n inkopielys) nie.

3. Finansiële selfversorging en gesinsorg is ewe belangrik

Vir daardie ma’s, oumas en vroue-onderhouers van huishoudings is die beplanning / finansiële versorging van hul eie toekoms en doelwitte van kardinale belang. Indien hulle nie finansieel na hulself omsien nie, sal hulle nie na ander kan omsien of hulle ondersteun nie.

Vroue moet sorg dat hulle die ondersteuning kry wat hulle benodig om hul finansies effektief te bestuur. Professionele persone is beskikbaar om hulp te verleen met hul begroting en om die regte produk /proseskennis te bied rakende spaardoelwitte, aftreebeplanning en skuldbestuur.

Soos wat vroue na hul afhanklikes omsien, moet hulle ook die nodige ondersteuning van hul gesin / huishouding ontvang. Kinders moet weet wat die maand se begroting behels en in watter opsig hulle kan bydra om die begrotingsboek te help klop, hetsy dit is om ma te help om streng by die inkopielys te hou, take te verrig om geld in te samel om die sporttoer te kan bywoon of te help spaar vir daardie welverdiende en verwagte wegbreeknaweek.

4. Balanseer die begrotingsboek

Vroue moet ’n begroting opstel (die basiese som van inkomste minus uitgawes) en hulle moet hul bestedingslekkasies uit die weg ruim (soos gereelde wegneemetes of diensfooie wat nie werklik benut word nie). En, hulle moet sorg dat hul skuld-tot-inkomste-verhouding /persentasie gebalanseerd bly (tel alle skuld bymekaar, deel die bedrag deur die inkomste-bedrag voor aftrekkings en vermenigvuldig dit met 100 om te vergelyk).

Die effektiewe bestuur van hul begrotings sal vroue in staat stel om meer van hul huidige situasie te kan begryp en om iets daaraan te kan doen indien dit minder gunstig reflekteer. Dit sal ook dan natuurlik hul stresvlakke help verminder, aangesien hulle weet dat hulle besig is om beheer oor hul finansiële situasie te neem.

5. “Vee” skuld uit en begin stadig maar seker spaar

Kommerwekkende skuldsituasies kan met enigiemand gebeur, daarom moet vroue nie so hard op hulself wees nie. In plaas daarvan, kan hulle spesifieke metodes toepas om hul skuld uit die weg te ruim. Vir diegene wat binne ’n kort tyd vordering wil sien, kan die sneeubal-effek geïmplementeer word, om eers die kleinste skuld af te betaal en daarna die duurder bedrae uit die weg te “vee” (dit sluit, byvoorbeeld, kredietkaarte met hoë rentekoerse in). Vir vroue wat meer mededingend van aard is, kan die stortvloed-metode die oplossing wees, om eers die groter skuldbedrae weg te kry en daarna die kleiner skuldbedrae aan te pak.

Maar, ’n meer volhoubare benadering word benodig vir vroue wat hul begrotings meer as twee keer nagegaan het, alles moontlik al gedoen het om kostes te sny en steeds oorweldig voel deur hul skuld.

Professionele persone kan die nodige ondersteuning bied wat vroue nodig het om beheer oor hul skuld te help neem sodat hulle kan begin geld spaar vir daardie noodfonds, verjaardaggeskenk of langtermyndoelwit, soos ’n motor.

Vir vroue wat steeds elke maand ’n vaste inkomste ontvang, is skuldberading (of te wel -hersiening) ’n gereguleerde, wettige en volhoubare proses om te oorweeg.

Die proses kan help om hulle finansiële ellende om te keer sodat hulle weer finansiële vryheid kan geniet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article