’n Stop-en-ry-stelsel is tans in plek ná ’n botsing tussen ’n motor en ’n bakkie vroeër vandag (15 Februarie) op die N7 naby die nuwe vulstasie.
Volgens ’n ooggetuie het ’n motor wat by die vulstasie uitgedraai het ’n u-draai terug in die rigting van Malmesbury gemaak toe dit met die bakkie gebots het. Nooddienste is op die toneel.
Sers. Henry du Randt, polisiewoordvoerder, het intussen bevestig dat geen van die insittendes in die twee voertuie ernstig beseer is nie. Volgens du Randt sal die snelweg nie gesluit word nie maar sal verkeersvloei wel vertraag word weens die botsing sowel as padwerke in die omgewing. “Verkeersbeamptes is tans besig om die voertuie betrokke in die botsing uit die ryvlak na die kant van die snelweg te beweeg vir beter verkeersvloei. Voldoende spasie op die ryvlak is egter beperk weens die padwerke.”
Die polisie vra dat padverbruikers wat tans tussen Malmesbury en Moorreesburg reis geduldig moet wees totdat die toneel opgeklaar is.


