Ná onlangse gebeure in kusgebiede en by binnelandse damme, mere en riviere waartydens watergebruikers in die moeilikheid beland het, doen die Nasionale Seereddingsinstituut ’n ernstige beroep op alle watersportentoesiaste om ekstra versigtig te wees en seker te maak alle nodige veiligheidsmaatreëls word nagekom wanneer hulle aan wateraktiwiteite deelneem.
Die NSRI bedank onder meer ooggetuies wat onlangs ’n kajakvaarder, wat in die moeilikheid beland het, gewaar en die voorval spoedig aangemeld het. Daarom wil die instituut juis kusgangers en lede van die publiek aanmoedig om enige bekommernisse rakende strandgangers of waar ’n moontlike tekort aan waterveiligheid blyk te wees, sonder versuim aan te meld.
“Ons doen ’n beroep op alle roeiers, hengelaars, seiljagters en ander watergebruikers aan die kus én in die binneland om gebruik te maak van die NSRI RSA SafeTrx-slimfoontoepassing om verdere veiligheid op die water toe te pas,” het die NSRI gesê.
Die toepassing gee watersportentoesiaste die geleentheid om hul uitstappie in te sleutel en hul ligging met die NSRI en betrokke owerhede te deel wanneer ’n noodgeval opduik.
Die toepassing hou jou ook op hoogte van weervoorspellings wat belangrik is vir enigiemand wat ’n uitstappie op die water beplan, veral in die winter. . Besoek www.nsri.org.za/water-safety/safetrx en laai die toepassing nou af.




