Die baie lae watervlakke van opgaardamme in Montagu het die implementering van Vlak 1-waterbeperkings deur die Langeberg-munisipaliteit van 1 Junie vanjaar genoodsaak.
Die wintermaande is van kritieke belang vir die vul van Montagu se damme om vir die somerperiode voorsiening te maak.
Die langdurige hoë stadiums van Eskom-beurtkrag het ’n groot uitwerking op die voorsiening van water aan Montagu omdat water vir behandeling van Ashton af gepomp moet word.
Gevolglik is Montagu se huidige watervlak by die Bodam 7%, terwyl Onderdam op 65% staan. Dit was om hierdie rede nodig om bykomende maatreëls in te stel.
Die doeltreffendste manier om waterverbruik in tye van watertekorte te verminder, is om tariewe vir oormatige gebruik te verhoog. Spesiale watertariewe ten opsigte van waterbeperkings is ook ingestel.
Verskeie ander beperkende maatreëls is ook in die Langeberg- munisipale Droogtebestuursbeleid ingesluit, en sal deur streng wetstoepassing afgedwing word.
Vlak 1-waterbeperkingskriteria
Die vereiste persentasie waterverbruik vir vlak 1-waterbeperkings is 90% van normale verbruik vir residensiële en sakegebruik.
Die beperkende maatreëls van Vlak 1-waterbeperkings is soos volg: . As huishoudings meer as 30 000 liter water per maand gebruik, sal hulle in ’n hoër watertarief val (’n boete ingevolge artikel 75 A van die Stelselswet, synde ’n 50%-boete op tariewe). Dit sluit behoeftige huishoudings uit. . Tuine mag slegs vir twee ure per dag tussen 18:00 en 20:00 op twee dae per week natgemaak word. . By sportvelde mag slegs krieket-, gholfbaan- en rolbalbane vir twee ure per dag, twee keer per week, natgemaak tensy eie bron van water gebruik word.. Geen spuit van dakke en opritte en geen was van voertuie met ’n tuinslang sal toegelaat word nie. Dit is nie van toepassing op enige bona fide en voltydse kommersiële ondernemings wie se besigheid dit is om motors te was nie. . Alle oortredings moet by die inbelsentrum aangemeld en onmiddellik deur wetstoepassers opgevolg word. . Onderhoudspanne sal beskikbaar gestel word om lekkasies op erwe in behoeftige huishoudings te herstel.
Indien ’n verbruiker skuldig bevind word aan die oortreding van of versuim om te voldoen aan enige bepalings van hierdie waterverordening of voldoeningskennisgewings wat deur ’n gemagtigde amptenaar bedien word, kan hy of sy by skuldigbevinding aanspreeklik wees vir ’n boete soos gepubliseer in die jaarlikse tariewelys –– R3 499 in die 2023-’24-boekjaar of drie jaar gevangenisstraf; of albei.
Waterverbruik van alle gebruikers sal maandeliks gemonitor word en strenger waterbeperkings sal ingestel word indien die geteikende verbruik nie bereik word nie.
Inwoners word versoek om watermisbruik en lekkasies aan te meld by 0860 88 11 11 of info@langeberg.gov.za
Die Langeberg-munisipaliteit bedank almal opreg vir hul pogings om water te help bespaar en by te dra tot aansienlike besparings in Montagu tot dusver.
Vlak 1-waterbeperkings in Montagu sal voortgaan om reg deur Augustus 2023 van toepassing te wees.. Die 2023-’24-watertariewe vir residensiële gebruikers is soos aangedui in die tabel hierbo met die tariewe wat van toepassing sal wees vir die verskillende vlakke van waterbeperkings.



