Twee verdagtes het gister (Maandag 7 Oktober) in die Malmesbury-landdroshof verskyn nadat hulle vir die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie in hegtenis geneem is.
Lede van die plaaslike polisie in Malmesbury het die afgelope Saterdag inligting ontvang, wat hulle na ’n huis in Riverlands gelei het. Met die polisie se aankoms omstreeks 17:40 het hulle bevind dat die huis as ’n winkel gebruik word. Ná verdere ondersoek is ’n .38 Special-rewolwer met vyf rondes ammunisie onder die winkel se toonbank aangetref.
Twee verdagtes van onderskeidelik 19 en 24 jaar is op aanklag vir die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie in hegtenis geneem, het kapt. Marko Heydenrych, ’n woordvoerder vir die plaaslike polisiekantoor, bevestig.
Die stasiebevelvoerder, kol. Luthando Nosilela, het sy dank teenoor die gemeenskap van Riverlands uitgespreek in hul poging om misdaad te help bekamp.




