Drie manne besoek ’n tweedehandse winkel naby die hawe. Hulle soek na sinkers, hoeke en vislyn. Die witboordjie-werker wat lanklaas kon tyd afknyp vir visvang voel kinderlik gelukkig, want voor hom op die rak is alles wat hy benodig. Sy broer, die snob, bly loer oor sy skouer – sê net iemand herken hom in hierdie deurmekaar plek vol gehawende goeters? Toe die drietal uitstap kar toe, ril dié jong boekhouer in hul midde: “Ek’s bly ek hoef nie hier voorraadopnames te neem nie!”

Hoe jy na ’n saak kyk, bepaal jou persepsie.

Wanneer ’n enkele tissue tussen jou en sosiale waardigheid staan, waardeer mens ’n gekreukelde tissue uit iemand se broeksak. Maar wanneer daardie sneesdoekie in jou wasmasjien beland, raak jy kwaad en mors dit tyd, want honderde nat stukkies snesie eis dat jy alles nog ’n keer was.

Dit bly ’n kwessie van persepsie.

Dieselfde gebeur wanneer jy ’n bolangse kennis tuis besoek en beter leer ken. Jy ervaar haar daaglikse omgewing, jy sien haar klein oorwinnings en uitdagings, haar verleenthede en nuanses en jy besef – sy is ook net mens.

Dit hang 100% af van die bril waardeur jy kyk.

Hoe sorg ’n mens dat jou lewensbril skoon bly van al die vaal lewenskolle? Vaal kolle wat veroorsaak word deur ’n ongemaklike ekonomie en kraglose leiers? Hoe keer mens ’n negatiewe, grimmige, veroordelende houding?

Internetbronne sê “(konkrete) perspektief is die grafiese voorstelling van driedimensionele voorwerpe en diepteverhoudings op ’n plat vlak. Hoewel elke voorwerp ’n sekere ruimtelike uitgestrektheid (diepte) besit, is dit onmoontlik om die diepte-omvang uit ’n enkele waarnemingspunt te sien. Die feit dat diepte hoegenaamd waargeneem kan word, is gedeeltelik daaraan toe te skryf dat ’n mens twee oë het, met ander woorde elke voorwerp word vanuit twee waarnemingspunte gesien.”

Sela. Want sodra ’n mens bereid is om sake van ’n ander kant af ook te beskou, raak jou perspektief wyer, meerdimensioneel.

Dan leer jy nuwighede omhels omdat jy met ’n oop kop na sake kyk; jy draai inderdaad weg van rigiede, bekrompe uitgangspunte en kan jy die lewe nog meer voluit beleef.

Die interessante ding is dat ons voorsate eers teen die vyfde eeu v.C. geleer het van perspektief by konkrete voorwerpe en die gebruik van skaduwee om perspektief te interpreteer. Die verstaan van perspektief het dus lang jare geneem om te ontwikkel.

Beteken dit dan dat iemand wat nie bereid is om ander perspektiewe op ’n saak te oorweeg nie sekere dele van sy brein doelbewus afskakel?

Sinonieme vir die woord perspektief is juis oogpunt, kykhoek, sienswyse, verwysingsraamwerk.

Lees, reis, beleef nuwe dinge, gesels met mense wat anders dink as jy, beveel lewensafrigters aan. Slaap eers daaroor om ’n beter perspektief te kry, glo die ouer mense.

Uiteindelik beteken dit dat hoé ’n mens oor sake dink, jou lewensperspektief, dikwels ook jou toekoms – en die volle ontwikkeling van jou lewenspotensiaal – bepaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article