Die Malmesbury- interkerklike vroueforum onder leiding van Cynthia Slingers het vanjaar hul 47ste bestaansjaar met verskeie uitreikaksies gevier.
Die vroue kom maandeliks by verskillende kerke bymekaar vir gebed en geestelike verkwikking.
“Kniel om te oorwin” is hul slagspreuk met ’n boodskap van welwillendheid, mededeelsaamheid en ondersteuning, wat hulle voortdurend deur hul uitreikaksies in die gemeenskap uitdra.
Vroeër die maand is die dorp se munisipale vuilisverwyderaars met ’n gesellige en heerlike middagete en geskenke bederf, wat moontlik gemaak is deur skenkings van Raiel, Super SPAR Malmesbury, Swartland Vissery sowel as Derick en Michelle Grootboom, wat hul fasiliteit gratis beskikbaar gestel het.





