Die Breërivier-Wynland-landbou-ontwikkelingsvereniging maak ’n verskil op plase in die Ashton-distrik
Met die vestiging van ‘n naaldwerkopleidingsentrum in die gemeenskapsentrum op die plaas Lucerne het die Breërivier-wynland-landbou-ontwikkelingsvereniging weer eens bewys dat die sosio-ekonomiese opheffing van vroue en jeug op plase, hom na aan die hart lê.
Die naaldwerkopleidingsentrum se klasse word gratis aangebied en werklose vroue en jeug op plase in die Ashton-distrik is welkom om te registreer.
Die korttermyn-doelwit van die projek is om aan die vroue ’n geleentheid te bied om naaldwerkvaardighede aan te leer om hulle in staat te stel om naaldwerkdienste in hul eie omgewing te lewer en ‘n inkomste te verdien.
Die langtermyndoel is om vroue op te lei om permanente stikstersposte by naaldwerkondernemings in die omgewing te bekom. Verder beoog die vereniging ook om, sodra hulle genoeg vroue opgelei het, met ’n swartbemagtigingsonderneming te begin, wat plaaswerkersklere teen bekostigbare pryse sal vervaardig.
Die basiese opleidingskursus sal oor ‘n tydperk van drie maande strek. Tiemn vroue sal op ‘n keer opgelei word. Die plan is om 40 vroue per jaar op te lei. Talentvolle, toegewyde vroue sal dan verder as opleiers en toesighouers opgelei word, wat vir gehalte- en voorraadbeheer verantwoordelik sal wees.
Vroue wat kwalifiseer, sal ’n gevorderde kursus in kleremaak kan volg om vir die fabriek opgelei te word. Hierdie vroue sal dan ook opleiding in sake-, finansiële en personeelbestuur ontvang.
Hierdie projek word aangebied in samewerking met Silver Threads-dienssentrum in Ashton, wat al hul naaimasjiene, omkapmasjiene, industriële stikmasjiene, hul borduurmasjien en hul snymasjien vir die projek beskikbaar gestel het.
Die projekbestuurders is Jo Slabber en Alida Cilliers. Slabber is ‘n opgeleide naaldwerkster met opleidingsvaardighede. Alida Cilliers is verantwoordelik vir die administrasie en bemarking van die projek. Albei dié vroue is vrywilligers met ’n passie vir die bemagtiging van werklose vroue en die jeug.
Boere word gevra om die projek onder die aandag te bring van werklose vroue en jong vroue op hul plase sodat leerders vir die volgende opleidingsessie, wat in Augustus 2023 begin, kan registreer.
Die projek benodig egter nog baie stukke afvallap en materiaal asook naaimasjiene in werkende toestand. Die gemeenskap se hulp sal opreg waardeer word.. Kontakbesonderhede: Opleiding: Jo Slabber by 082 322 1077; skenkings: Alida Cilliers by 082 896 3435




