Vroue is soos bome – elkeen verskil in voorkoms, funksie en geaardheid. Al troon sommiges van hulle hoog bo die ander uit, en al is sommiges rond of krom, lowerryk of karig beblaard, en al sprei sommige bome hul wortels soos ’n (sosiale) netwerk wyd uit en andere het een diep penwortel – ons almal soek op verskillende lewensfases skuilte by ’n boom en by ’n vrou van ons keuse.

Jan de Wet se nooi is in ’n nartjie, sy ouma is in kaneel, maar ’n vrou met ’n wye oop glimlag en gemaklike geaardheid, herinner aan ’n lowergroen boom se koelte op ’n hittige somersdag. Jy raak sommer lus vir uitspan en vertoef in haar verkwikking.

Soos die Duitsers jare lank by hul Sterk Boom, Angela Merckel, leiding gevind het; die Nieu-Seelanders by Jacinda Ardern en die Britte moontlik binnekort by Liz Truss, ken ons almal in ons straat en familie ook die sterk vroue op wie ons staatmaak.

Nie alle bome is blomryk soos ’n jakaranda, hibiskus of japonika nie. Só is baie van ons staatmakervroue nie noodwendig flambojant of kleurryk nie. Diegene by wie ons gaan skuil wanneer lewensdroogtes aan ons voordeur klop, is dikwels dié vrou wat op haar knieë wysheid en sterkte vind voordat sy ons, Jan Alleman, deur krisisse begelei.

Vroue wat selde koerantopskrifte haal, is dikwels diegene wat hul etes rek sodat die buurkinders ook aandete kry; of vriende help planne maak om deur donker driwwe te kom.

In teenstelling met lowergroen en skaduryke bome, bied koors- en sambreeldoringbome min skuilte. Tog vorm hulle deel van ’n bekoorlike landskap en verseker hulle steeds kos aan insekte en voëls. Dus hoef nie alle vroue ’n warm geaardheid te hê nie – hulle dra sekerlik ander eienskappe, wat op ander maniere die mense rondom hulle verkwik en inspireer.

In sy boek The Hidden Life of Trees –what they feel, how they communicate, beskryf Peter Wohlleben hoe bome in woude deur hul wortelstelstel kommunikeer. “Bome se sosiale interaksie is hul mees verstommende eienskap,” vertel hierdie Duitse navorser. “Woudbome sorg ouerlik vir mekaar, hoofsaaklik deur ’n woudwye web fyn wortels wat grond-organismes in ’n intieme netwerk met mekaar verbind, en voedingstowwe plus inligting oor gevare aan die buitekant van die woud na mekaar deurstuur. Bome is soos vriende – hulle het mekaar nodig om ’n gesonde mikroklimaat vir groei en welsyn te skep,” vertel Wohlleben. “Juis daarom leef bome wat eenkant staan, dikwels nie so lank as bome in ’n woud nie.”

Net voordat manne hard sug oor vroue nou ’n goeie verskoning het vir hul sosiale leefstyl – bome is immer afhanklik van geure om te floreer. “Wanneer blaarvreters ’n doringboom takel, skei die boom dadelik ’n geur af om buurbome oor gevaar te waarsku. Geleidelik skei al die naburige bome ’n chemiese geur af, wat die vreter laat verkas. Onthou net, bome leef in ’n veel stadiger tydritme as mense.”

Menere – is hierdie anderste tydritme dalk die rede waarom jul vroue soms ’n bietjie laat is?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article